Woordfees: ’n Ander dimensie aan Dean Smith se Bettie

Suidooster se Dean Smit bring ’n dieper dimensie aan sy bekende internetpersona, Bettie, tydens sy eenmanvertoning Hello, is Bettie wat praat.

Hierdie eenmanvertoning word by die 2023 Toyota US Woordfees opgevoer nadat dit ook vroeёr vanjaar by die Suidooster-kunstefees te siene was. 

In Dean Smith se eenmanvertoning, ‘Hello, is Bettie wat praat’, kry die gehoor die geleentheid om ’n dieper kant van Smith se internet-persona, Bettie, te sien. FOTO: Verskaf/Woordfees 

Smith se alter-ego

Kykers het vier jaar gelede vir Bettie ontmoet toe Smith haar vir die eerste keer op sosiale media bekendgestel het. Dit was haar nuuskierige geaardheid wat mense dadelik na haar aangetrek het. Bettie hou van skinder, maar het gewoonlik die kat aan die stert beet.

Ons almal ken mos ’n tannie Bettie wat altyd by die venster uitloer en ’n eiertjie oor almal te lê het. Almal sal een van hulle eie familie-lede in Bettie kan sien.

In die vertoning staan Bettie vir 55 minute in haar kombuis en gesels met die gehoor. Sy praat oor alles – van haar motorwerktuigkundige tot haar doktorsafsprake.

Die vertoning se stel skep ’n gesellige atmosfeer wat die kyker laat voel asof hulle weer terug is in hulle eie ouma se kombuis en vir haar uithelp met huishoudelike takies.

Die stel in Dean Smith se eenmanvertoning, ‘Hello, is Bettie wat praat’, kry dit reg om ’n gesellige huislike atmosfeer te skep, wat die gehoor weer terugneem na hulle eie ouma se huis. FOTO:Verskaf/Woordfees

’n Ander kant van Bettie

Ten spyte van al Bettie se komieklike sê-goed, leer die gehoor ook vir die eerste keer meer van haar pyn en seer. Hierdie neem Bettie na ’n ander dimensie en die gehoor leer haar ken op ’n vlak wat nie moontlik is in ’n paar videos op sosiale media nie.

Bettie se seer laat die gehoor reflekteer op die mense in hulle lewe wat ook, soos Bettie, altyd bereid is om vir enige iemand ’n koppie tee te maak en met ’n gesukkel hulle eie pyn wegsteek en die blink kant bo hou. 

Bettie maak haar laaste 2023 Woordfees verskyning op 14 Oktober in Stellenbosch se HMS Bloemhof-sentrum.