Woordfees: Kortfilms skram nie weg van ernstige kwessies

Óf dit nou hoërskool-ontgroening óf maandstonde voor ’n belangrike vergadering is, albei verbouereerde scenario’s sal jou karakter en deursettingsvermoë toets. Dít is die situasies waarin twee hoofkarakters hulself onderskeidelik bevind in die twee kortfilms ’n Doop om stilte en Koors.

Kollektiewe trauma 

In ’n Doop om stilte, wat 22 minute duur, probeer Joshua (Tiaan Luyt) die ontgroening by sy hoërskool oorleef – wat verskillende vorme van vrees en angs binne hom wek. Sy struikelblokke is die sadistiese seniors wat hom verneder en ander vorme van fisiese en psigologiese mishandeling op hom uitoefen.

Die regisseurs en skrywers Kanya Viljoen en Emilie Badenhorst het vir seker nie net beplan om ’n storie te vertel wat die kykers op die punt van hul stoel sal hou nie, maar om ook die eksplisiete ervaring te vertel oor die effekte en nagevolge wat ontgroening het op veral jongmense.

Joshua (Tiaan Luyt, middel) ervaar haglike behandeling tydens sy hoërskool-ontgroening in die kortfilm ’n Doop om stilte. FOTO: Verskaf/Silwerskermfees

Onverwagte ontwikkelinge

In Koors, wat 11 minute duur, moet Simoné (Mandri Sutherland) ’n groot hofsaak aanpak, maar haar maandstonde verhoed dat sy en haar span hul planne, wat ‘n belangrike hofsaak betref, deurvoer. Van daar af ervaar sy een mislukking ná die ander — met vele humoristiese gevolge.

Regisseur en skrywer Bianca Bothma wou met dié kortfilm nie net wys hoe dit is om deur ’n persoonlike stryd te gaan nie, maar ook hoe ’n persoon dit nie alleen hoef aan te pak nie.

In die kortfilm Koors bevind Simoné (Mandri Sutherland) haarself in die ongemaklike posisie voor ’n belangrike hofsaak – een wat buite haar eie beheer is. FOTO: Verskaf/Silwerskermfees

Twee films, een boodskap

Hoewel albei kortfilms verskil in storie en genre (Koors as ’n komedie, en ’n Doop om stilte as ’n drama), deins nie een terug om ’n atmosfeer van ongemak te skep nie en ook nie om die ware gruwel wat elk van die hoofkarakters ervaar, vir die gehoor te weerspieël nie.

Albei kortfilms takel ook ernstige onderwerpe: ’n Doop om stilte ondersoek toksiese manlikheid, homofobie, magsmisbruik, seksisme, en die stryd om individualiteit. Koors kyk ook na seksisme, maar in die konteks van die werkplek, sowel as die manlike blik, oftewel “male gaze” en dubbele standaarde wat vroue benadeel. 

Wat die tegniese aspekte betref, slaag albei kortfilms daarin om die storie op die silwerdoek vorentoe te dra. Voortslepende kamera-skote word gebruik om die spanning en lyding van karakters te beklemtoon, terwyl nabyaansig-kameraskote die volle aard van die situasie wys waarin Simoné haar bevind. Dit wys ook wat Joshua verduur, wat ’n kloustrofobiese gevoel by die kyker laat. Die klankbaan is nommerpas om by te dra tot die kortfilm se gevoel en om sekere tonele in die kortfilms uit te lig.

Albei kortfilms is by die Neelsie Cinema te sien, met gratis toegang. Die ouderdomsbeperking vir Koors en ’n Doop om stilte, is onderskeidelik geen o.13 (Taal) en geen o.16 (Taal, Geweld, Vooroordeel).

, , ,