Woordfees: ‘KUNS’ verken die prys van vriendskap

Toneel: ‘KUNS’

14 Oktober om 20:30

Adam Small-ouditorium

Wat sê jou smaak oor wie jy is? Of, meer belangrik, wat sê jou vriende se smaak oor wie jy is? Die Afrikaanse verwerking van die Franse toneelstuk Art, op die Woordfees onder regie van Marthinus Basson, bied ’n veelvlakkige verkenning van hoe smaak en vriendskapsdinamika oor tyd verander.

Dié toneelstuk van die Franse dramaturg Yasmina Reza is vir die eerste keer in 1994 opgevoer en is sedertdien in 20 tale vertaal. Die verhaal volg drie vriende, Serge, Marc en Yvan, soos wat hulle tot die besef kom dat elkeen merkwaardig verander het oor die loop van hul jare-lange vriendskap. Hul meningsverskille, vuishoue en uiteindelike versoening word aanvanklik teweeg gebring deur Serge se aankoop van ’n peperduur skildery – wat op die oog af spierwit lyk.

‘KUNS’, ’n Afrikaanse verwerking van die Franse toneelstuk Art, vertel die storie van drie ou vriende wat besef hulle het elkeen baie verander wanneer een ’n duur, spierwit kunswerk koop. Van links na regs: Wilhelm van der Walt (Yvan), Wessel Pretorius (Marc) en Ludwig Binge (Serge). FOTO: Verskaf/Pierre Rommelaere

In dié verwerking word die oorspronklike Franse konteks en tydperk behou, maar die unieke humorsin en woordeskat van die Afrikaanse taal laat dit plaaslik voel. Dit verseker dat die gehoor nie vervreemd word deur buitelandse kulturele verwysings nie.

Die bekroonde Suid-Afrikaanse akteurs Wessel Pretorius (Marc), Ludwig Binge (Serge) en Wilhelm van der Walt (Yvan) se resonansie op die verhoog is tasbaar en hulle uitbeelding van die dinamika tussen drie ou vriende is geloofwaardig. Hul gesprekke vloei natuurlik en met skerp komiese tydsberekening het hulle die gehoor verskeie kere hardop laat lag.

Hoewel die verhoogontwerp minimalisties is, word rekwisiete, kostuums en beligting doeltreffend gebruik om die verskillende karakters se persoonlikhede uit te beeld en aan te dui wanneer daar van ligging verander word. Yvan se sweetpak en tekkies steek op ’n snaakse wyse af teen Marc se pak, en Serge se modieuse chino-broek is ook aanduidend van Yvan se eiesoortige, kinderlike aard.

Indien ’n gehoorlid nie met die oorspronklike toneelstuk vertroud is nie, kan daar moontlik ’n verwagting wees dat ‘KUNS’ te veel neig na (somtyds pretensieuse) kuns-filosofie. Die toneelstuk ondermyn egter hierdie veronderstelling deur venynig te spot met hoe die drie karakters se uiteenlopende smaak verdeling in hul vriendskap saai.

Die drie vriende in ‘KUNS’, vertoon deur Ludwig Binge (links), Wilhelm van der Walt (middel) en Wessel Pretorius (regs), moet deur die loop van die toneelstuk leer om mekaar weer te aanvaar na elkeen se lewens en persoonlikhede oor die jare heen verander het. FOTO: Verskaf/Pierre Rommelaere

Die vriende se aanvanklike konflik oor Serge se nuwe spierwit skildery word egter ’n breër verkenning van die onderliggende spanning wat tussen die vriende ontstaan het weens elkeen se individuele verandering en groei. Die groep worstel om groot lewensveranderinge, soos mekaar se huwelike en verskillende vlakke van finansiële welvaart, te aanvaar.

‘KUNS’ is geensins net vir kunsliefhebbers nie, maar vir enigeen wat al gevoel het dat hulle nie meer hul ou vriende herken nie – en moes leer om hulle weer te aanvaar vir wie hulle is.

  • ‘KUNS’ kan op 16, 17, 18 en 19 Oktober in die Adam Small-ouditorium gekyk word. Kaartjies is beskikbaar op Quicket.