Woordfees: Die (on)vergelykbare enigste dogter

Eenpersoondrama: Die ander dogter

3 Oktober 2026 om 10:00

Adam Small-teater

Enkelkinders is veronderstel om van ’n bestaan van ’n sibbe-vergelyking kwytgeskeld te wees. Maar nie Annie Ernaux nie, wat op 10-jarige ouderdom per toeval hoor dat sy ’n ouer suster gehad het, wat jare voor haar geboorte aan witseerkeel in 1930’s Frankryk dood is. Sedertdien is Ernaux se lewe verdoem tot konstante vergelyking.

In die skemer van haar eie lewe, begin Ernaux uiteindelik ’n brief skryf aan die dooie suster wat haar ouers lewenslank van haar verskuil het.

Sandra Prinsloo by die Woordfees se produksie van 'Die ander dogter'.

Die ander dogter is ’n eenpersoondrama met Sandra Prinsloo wat by vanjaar se Toyota Stellenbosch Woordfees opgevoer word. Verwerk vir die verhoog deur Saartjie Botha, die toneelstuk is gebaseer op 2022 Nobelprys vir Literatuur-wenner, Annie Ernaux, se memoir. FOTO: Verskaf/Llewellyn de Wet en Woordfees

Vertaal deur Naòmi Morgan en verwerk vir die verhoog deur Saartjie Botha, plaas die teks die gehoor as waarnemers van die skryfproses. Verskeie temas word in hierdie Franse gedenkskrif, waarvoor Ernaux in 2022 die Nobelprys vir Letterkunde gewen het, ondersoek: ’n Ouer se traumatiese verlies van ’n kind en die vrees dat dit weer kan gebeur; die tevergeefsheid van vasskop teen die gedane sake van die verlede; en die besef dat die dooies dikwels baie meer ruimte as net ’n graf in die grond opneem.

Suid-Afrikaanse teater-veteraan, Sandra Prinsloo (of eerder dr. Prinsloo, soos sy nou bekend is nadat sy einde September haar eredoktorsgraad aan Noordwes-universiteit gekry het) dra die grootsheid en gewig van hierdie teks met die grasie wat slegs iemand met meer as 40 jaar se ervaring in die Suid-Afrikaanse film- en teaterbedryf kan. Sy beeld ’n karakter uit wat diep worstel met idees van uitsluiting – hoekom het Ernaux se ouers haar nooit van hierdie suster vertel nie? Is sy gebore net om die plaasvervanger van ’n dooie kind te wees?

Die verhoog en stel van 'Die ander dogter'.

Die stel en beligting van Die ander dogter, ’n eenpersoondrama met Sandra Prinsloo, benadruk die eensaamheid wat Annie Ernaux lewenslank ervaar het nadat sy op 10-jarige ouderdom ontdek dat sy ’n ouer suster, wat jare voor haar eie geboorte dood is, gehad het. FOTO: Verskaf/Llewellyn de Wet en Woordfees

“Death makes angels of us all,” skryf Jim Morrison in sy gedig en liedjie, A Feast of Friends. Met die engel van haar “soet” en “heilige” suster as verwysing, beeld Prinsloo die pyn en gevolglike waansin van ’n lewe van vergelyking as die ontstuimige, stout suster, meesterlik uit.

Die stel en beligting benadruk die eensaamheid wat Ernaux lewenslank ervaar het. In die middel van die verhoog is net ’n stoel, lessenaar en skinktafeltjie. ’n Enkele lig skyn, verlate, op die stel. ’n Gaasgordyn omring Prinsloo soos ’n kokon. Hierop flits beelde soos herinneringe: skaduwees van takke en blare, gesigte op 35mm film-foto’s.

Aan die einde van Die ander dogter voel ’n mens asof jy ’n pelgrimstog saam met Prinsloo voltooi het. Alhoewel die brief aan Ernaux se suster gerig is, is dit uiteindelik vir haar bedoel. Briewe kan tog net deur die lewendes gelees word.

Die ander dogter word by die Toyota Stellenbosch Woordfees tot 8 Oktober opgevoer. Kaartjies kan hier gekoop word. 

, , ,