Virtuele Woordtrofees – ’n mosie van vertroue in die toekoms van die kunste

Die wenners van die jaarlikse Woordtrofees-toekenningsaand is gisteraand omstreeks 18:00 vir die eerste keer virtueel aangekondig, via die Woordfees se Facebook-blad.

Die Toyota US Woordfees 2020 se virtuele Woordtrofee-toekenningsgeleentheid het ten doel gehad om midde die land se huidige grendelstaat ’n mosie van vertroue in die toekoms van die Suid-Afrikaanse kunste te wees, het Saartjie Botha, die direkteur van dié jaarlikse fees, gesê. 

“Die Covid-19 pandemie is ’n ramp vir die kunstebedryf. Ons beskou dié aanlyn viering van die Woordtrofees-wenners as ’n belangrike erkenning van uitmuntende werk én ’n aanmoediging vir kunstenaars,” het Botha aan MatieMedia gesê.

Volgens Botha word baie dinge moontlik wanneer die kunste floreer. 

Benoemings is in 29 kategorieë ontvang, en in 14 van dié kategorieë was daar benoemings aan individue wat tans verbonde is aan die Universiteit Stellenbosch (US). Die US is ’n mede-naamborg van die fees. 

Valsrivier Foto Nardus Engelbrecht 11 (1) Woordtrofees

Robert Hindley wat by die Woordtrofees 2020 as die beste speler (manlik) aangewys is, speel teenoor die aktrise, Tinarie van Wyk Loots, in die produksie, Valsrivier. FOTO: Nardus Engelbrecht/INK

“As ’n jong akteur is dit vir my baie bemoedigend asook ’n eer om saam met die room van die professionele teater-speelvlak in ’n genomineerde kategorie geplaas te word,” het Robert Hindley, ’n honneurstudent in toegepaste teater aan die US, wat as beste manlike speler aangewys is, gesê.

Volgens René Cloete, wat as beste opkomende kunstenaar aangewys is en ’n finalejaarstudent aan die US se Drama Departement is, is dié departement ’n magiese spasie. 

“[Die universiteit] gee vir ons ’n platform vir oneindige groei binne, sowel as buite, die raamwerk van jou kursus,” het Cloete gesê.

Huppelkind - Retha Ferguson (5)

René Cloete wat by die Woordtrofees 2020 as beste opkomende kunstenaar aangewys is, manipuleer die pop, Huppel, saam met mede akteurs, Stian Bam en Andrico Goosen, in die produksie, Huppelkind. FOTO: Retha Ferguson

Ashley Walters, ’n dosent aan die US, wat in die kategorie, beste prestasie vir visuele kuns, benoem is as kurator van die visuele kunsuitstalling, Indlovukazi, meen dat die Departement Visuele Kunste op sy beurt ’n intellektueel-stimulerende omgewing aan sy studente verleen. 

“Ek is altyd opgewonde om te sien waarmee die studente vorendag kom,” het Walters gesê.

Volgens Botha was daar dikwels in geskiedenis ’n opbloei in die kunste net ná krisisperiodes. 

“Die wêreld het nóú kunstenaars nodig,” het Botha gesê.

Thandiwe Msebenzi_Aniek Nieuwenhuis_Jabu Nadia Newman_Bonolo Kavula_Ashley Walters (1)

Die kunsuitstalling, Indlovukazi, waarvoor Ashley Walters in die kategorie, beste prestasie vir visuele kunste, as kurator benoem is. FOTO: Ashley Walters

, , ,