TygerMaties sit ’n helpende hand by

Mediese studente aan die Universiteit Stellenbosch span saam met Tygerberg Hospitaal om Covid-19 te beveg.

Ongeveer 360 mediese studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Tygerberg-kampus het hul vakansies prysgegee om hand by te sit in die stryd teen Covid-19 by Tygerberg Hospitaal.

Luné Smith, ’n vyfdejaar mediese student, tesame met Sara-Mari Burger en Abdul-Mutakabit Aziz, vierdejaar mediese studente, het die hospitaal aanvanklik gekontak om te vra waar hulle kan uithelp. Dié drie studente dryf nou hierdie inisiatief.

Dr. Suretha Kannenberg, ʼn dosent by die Afdeling van Dermatologie by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die US, help om dié vrywillige dienste by Tygerberg Hospitaal te bestuur.

“Die studente word opgelei in verskillende afdelings en werk ook onder die toesig van mediese personeellede. Hulle ontvang ook alle nodige beskermingstoerusting – soos wat deur die protokol vereis word,” het Kannenberg gesê. 

Luné Smith (middel), ʼn vyfdejaar student, tesame met Sari-Mari Burger (links) en Abdul-Mutakabit Aziz (regs), vierdejaar mediese studente, het hierdie inisiatief geloods. FOTO: Luné Smith

Luné Smith (middel), ʼn vyfdejaar student, tesame met Sara-Mari Burger (links) en Abdul-Mutakabit Aziz (regs), vierdejaar mediese studente, het hierdie inisiatief geloods. FOTO: Luné Smith.

Volgens Kannenberg, kan studente van enige jaargroep help. Senior studente word verkies vir kliniese werk, terwyl die junior studente help met die administratiewe take.

“Die inisiatief stel [mediese] studente bloot aan die realiteit [waarin Suid-Afrika tans vasgevang is],” het Smith aan MatieMedia gesê.

Volgens Smith, is dit belangrik vir mediese studente om betrokke te raak by die praktiese aspekte van die teorie – wat studente dikwels dink hulle reeds onder die knie het.

“As jy vrywillige werk by die hospitaal doen, sien jy werklik hoe oorweldigend dinge kan raak. Dit help jou om meer begrip te hê en te verstaan hoekom [President] Ramaphosa die lockdown ingestel het,” het Smith gesê.

US studente van die Tygerberg-kampus is betrokke by verskillende dele van Tygerberg Hospitaal se hantering van pasiënte met Covid-19. INFOGRAFIKA: Carl Thomas.

US studente van die Tygerberg-kampus is betrokke by verskillende dele van Tygerberg Hospitaal se hantering van pasiënte met Covid-19. INFOGRAFIKA: Carl Thomas.

Anandi de Witt, ʼn tweedejaar mediese student aan die US, sê dat sy by die inisiatief betrokke geraak het omdat sy glo dat dit haar verantwoordelikheid is om te help. 

“Ons, as mediese studente, het die vaardighede om by sale uit te help en die las ’n bietjie ligter te maak vir gesondheidswerkers,” het De Witt gesê.  

Kanneberg het ook gesê dat die terugvoer vanaf die hospitaal baie positief is. “Tygerberg se werkers is baie beïndruk met die studente en dankbaar vir die hulp,” het Kannenberg verder gesê.

, ,