Vier Matie-Moorde wat die dorp geruk het: Inge Lotz

Geen beskermende maatreëls het op 16 Maart 2005 ’n moordenaar uit Inge Lotz se woonstel net buite Stellenbosch gehou nie.

Op ’n Herfsmiddag het die blonde 22-jarige in Shiraz-veiligheidskompleks 21, Klein Welgevonden, aan die 47 wonde aan haar liggaam beswyk.

Inge-Lotz-FINAL

Inge Lotz se liggaam is op 16 Maart 2005 in Shiraz-veiligheidskompleks 21, Klein Welgevonden, gevind. FOTO: Jana Wentzel 

Inge het kort voor haar dood haar Honneursgraad in wiskundige-statistiek cum laude geslaag en sou in die jaar van haar dood haar Meestersgraad aanpak.

Sy was haar ouers, Jan en Juanita Lotz, se enigste kind.

Volgens die skrywer en joernalis Julian Jansen, gaan Lotz (sr.) en sy vrou die “allerslegste oudwordjare” in, sonder antwoorde. “Dít is die verskriklikste,” het hy gesê. “Dit is [soos] ’n gevangenisskap.”

Inge Lotz 2 FOTO Verskaf

Lotz het kort voor haar dood haar Honneursgraad in wiskundige-statistiek cum laude geslaag. FOTO: Verskaf

Inge se moord is tot vandag toe stééds een van Suid-Afrika se grootste onopgeloste raaisels.

Haar destydse kêrel, Fred van der Vyver, is vir haar moord aangekla, maar is in 2007 vrygespreek.

Tydens ’n diepte-onderhoud met die bekroonde Suid-Afrikaanse joernalis Dana Snyman in 2017, het Lotz (sr.) vertel dat hy tydens dié siviele saak aan hipertensie, ernstige depressie en posttraumatiese stressteuring gely het.

“Soms weet ek nie watter kant toe nie,” het Lotz (sr.) aan Snyman vertel. “Jy gaan slaap met Inge in jou kop en word wakker met haar in jou kop.”

Alhoewel daar baie min besonderhede rondom Inge se laaste oomblikke is, vertel Lotz (sr.) aan Snyman dat hy wel die volgende kan sê: “My dogter was daardie laaste dag soos ’n vreesbevange klein voëltjie vasgekeer in ’n kou.”

Inge Lotz se moordenaar is steeds op vrye voet.

,