8th Man Restaurant en Rugbymuseum: Meer as net ’n kroeg vir Welgevonden-inwoners

Op ’n koue wintersoggend staan ’n klein restaurantjie naby Welgevonden-landgoed se deure reeds van vroeg af oop om rugby-aanhangers wat die wedstryd tussen die Hurricanes en die Highlanders wil sien, te verwelkom.

Twee jong mans sit by ’n klein tafeltjie vasgenael voor die televisie en geniet ’n warm koppie koffie in Welgevonden se eie 8th Man Restaurant en Rugbymuseum. ’n Boekrak, volgepak met rugbyboeke, kruip in die hoek van die restaurant weg en sowat 150 rugbytruie van rugbyspanne regoor die wêreld pronk teen die muur.

“Ek het in 1974 vir die Griquas gespeel en toe kry ek my eerste trui,” vertel Piet Swanepoel, bestuurder van dié restaurant en rugbymuseum in Stone Square. “Ek het na die wedstryd my trui op ’n hanger teen die muur gehang en toe dink ek, ‘jis, dit lyk mooi!’”

Volgens Swanepoel sr. het sy trui-versameling kort hierna begin en was dit nie lank voordat die versameling te groot geraak het vir die slaapkamer en toe na die sitkamer moes skuif nie. Vandag hang daar ongeveer 150 rugbytruie teen die mure van sy seun, Joshua Swanepoel, se restaurant en is die 20 kriekettruie 8th Man Restaurant en Rugbymuseum se nuutste aanwins.

sdr

Piet Swanepoel spog met sowat 150 rugbytruie in sy trui-versameling wat in die 8th Man Restaurant in Stone Square hang. FOTO: Jana Wentzel  

“Ek het nog altyd vir my pa gesê die versameling is te groot om net in die huis gehou te word,” vertel Swanepoel jr. “Toe ons hierdie restaurant gekoop het was dit die perfekte geleentheid vir my pa om die truie aan die publiek bloot te stel.”

Van die rugbytruie wat teen die mure hang, sluit dié van die 1970-Springbok-kaptein, Dawie de Villiers, en die voormalige Springbok-flank Schalk Burger in. Nog ’n Springboktrui wat tot 1906 terugdateer verskyn ook bo die kroeg en Swanepoel sr. wys na die res van die Springbok-truie in dieselfde ry om te wys hoe die Springbok-wapen oor die afgelope 112 jaar verander het.

sdr

’n Verskeidenheid Springbok-rugbytruie hang bo die kroeg in 8th Man Restaurant en Rugbymuseum. Hierdie truie wys hoe die Springbok-embleem sedert 1906 verander het. FOTO: Jana Wentzel

En as daar slegs een trui in hierdie versameling uitgesonder moet word? Swanepoel sr. staan met groot opgewondenheid op om sy gunsteling rugbytrui uit te wys. “Kom ek gaan wys jou,” sê hy. “Ek het saam met Frik du Preez [voormalige Springbok-flank en –slot] gewerk – hy was in die lugmag en ek was in die leër – en toe gee hy vir my hierdie trui van Dawie de Villiers [voormalige Springbok-skrumskakel en –kaptein].”

Swanepoel sr. staan in verwondering voor die trui en vertel hoe hy een aand vir De Villiers in ’n restaurant op Stellenbosch raakgeloop het en hom vertel het van sy trui wat nou in 8th Man Restaurant en Rugbymuseum hang.

“Hy het toe vir my die storie van dié trui vertel,” sê Swanepoel sr. en glimlag breed. “Hy en Frik [du Preez] het ’n kamer gedeel en die hele plek was besaai met klere. Frik het natuurlik die verkeerde trui ingepak!”

Hy loop hy na ’n Matie-trui wat by die ingang van die restaurant hang. Die trui is geraam met ’n foto van die standbeeld van Danie Craven, die voormalige Springbokspeler en –afrigter, en sy hond, Bliksem.

“Ek was self ’n Matie in 1970,” vertel Swanepoel sr. “Jis, ek sal vir jou sê toe ek hier aangekom het was Maties se hele agterlyn Springbok-spelers. Hulle is die thin red line genoem en dit was blykbaar maar net die tweede keer in die geskiedenis van Matie-rugby dat dit gebeur het.”

Swanepoel sr. noem van hierdie spelers se name op: Andy van der Watt, ’n voormalige Springbok-vleuel, Gert Muller, ook ’n voormalige Springbok-vleuel, en Jannie Engelbrecht, die voormalige Springbok-vleuel wat ten spyte van ’n gebreekte sleutelbeen steeds twee drieë gedruk het tydens ’n provinsiale wedstryd in 1964.

“Ek onthou hoe ek op ’n dag by ’n klein teater op die dorp gaan fliek het en toe staan hierdie groep Springbokke voor my,” roep Swanepoel sr. een van sy gunsteling herinneringe as Matie op. “Kan jy dink hoe voel dit vir ’n jong laaitie as daar vier of vyf Springbokke voor jou staan? Ek het my doodgeskrik! In ons dae het ons nie rugby gekyk soos vandag nie, ek het maar net een toets gesien op Springs voordat ek met die trein op Stellenbosch aangekom het.”

Swanepoel sr., wat self ’n kranige rugbyspeler en atleet in sy jonger dae was, vertel dat hy dikwels by Craven-week, die jaarlikse rugby-toernooi vir Suid-Afrikaanse skoolseuns, uitgesonder was vir sy talent, maar dat beserings hom gekwel het.

“Ek was maar net ses maande op Stellenbosch toe ontwrig ek my skouer terwyl ek besig was om ’n voëlhok te bou,” sê hy. “Ons het nie geld gehad vir ’n operasie nie, toe moes ek maar weermag toe.”

Swanepoel sr. was 30 jaar lank in die weermag gewees voordat hy afgetree het en ’n plaasopsigter in Franschhoek geword het. Dit is ná die eienaar van dié plaas se dood dat Swanepoel sr. die restaurant en museum begin bestuur het.

“Ek het in die weermag-dae al vir my vriende gesê ek sal weer eendag op Stellenbosch gaan bly,” sê Swanepoel sr. terwyl hy sy vingers op die tempo van sy woorde tik om hierdie stelling te bekragtig.

Swanepoel jr., wat onderwys op Wellington gestudeer het en vandag ’n onderwyser by Curro Sitari is, het die restaurant sowat agt maande gelede gekoop vir sy ouers om te bestuur.

Sy liefde vir sport, vertel Swanepoel jr., kom van sy ouers af. “Ek het maar so langs die veld grootgeword,” sê hy. “Ek was twee jaar oud toe is ek al langs die veld en soos ek ouer geword het, was ek altyd op naweke ball boy vir die spanne wat my pa afgerig het.”

“Ek weet nie hoe ek dit toegelaat het nie,” sê Bets Swanepoel, Swanepoel sr. se vrou en mede-bestuurder van 8th Man Restaurant en Rugbymuseum. “Joshua was nog ’n klein baba toe is hy al saam Piet weg na rugbywedstryde toe. Van die spelers wat Piet afgerig het, het sommer sy doeke omgeruil.”

Swanepoel jr. het Boland-krieket verteenwoordig in sy jonger dae, maar sê dat dit vir hom onmoontlik is om slegs een sportsoort te kies. “Rugby in die somer, krieket in die winter en gholf heeljaar lank,” sê hy. “Daar is geen manier nie, ek kan nie net een kies nie.”

Volgens Rudolf van Zyl, ’n Welgevonden-inwoner, is 8th Man Restaurant en Rugbymuseum nie net op ’n goeie plek geleë nie, maar maak dit ook rugby-kyk weer lekker. “Rugby is deel van ons as Suid-Afrikaners,” sê hy. “Die truie wat teen die mure hang laat mens sommer tuis voel. Dit maak jou lus om vir die Bokke te skree.”

“Hierdie is dalk net ’n familie-besigheidjie, maar ons is ingerig vir studente,” sê Swanepoel sr. “Ek dink dit gaan nog ’n landmerk in Stellenbosch word as gevolg van dié trui-versameling.”

Die eindfluitjie blaas op die televisie, die Highlanders het die Hurricanes 30-14 geklop. Die twee jong mans vra vir die rekening en ’n nuwe gesig stap in verwondering die restaurant binne met sy oë vasgenael op die rugby-truie teen elke muur.  

,