Van Plaaskind tot Suidooster: Keagan Bailey se lewensreis met sy towerpen

Elke Maandag tot Vrydag om 18:30, skakel duisende Suid-Afrikaners in om die gewilde KykNet-sepie Suidooster, te kyk. Die Stellenbosser Keagan Bailey was vir ’n geruime tyd een van die mense wat help skaaf het aan die storielyne wat Suidooster-kykers vasgenael hou. SMF News se Keziah Bailey* het met hom gesels oor sy pad na die Suidooster-kassie en sy planne vir die toekoms.

Die 26-jarige Keagan Bailey wou nog altyd in die skryfwêreld gaan. Sy aanvanklike kreatiewe uitlaatklep was briewe en gedigte wat hy aan sy vriende geskryf het. Hy het egter begin naam maak vir homself toe hy by Suidooster aangesluit het – aanvanklik as draaiboekkoördineerder, maar later ook as een van die mede-skrywers. 

’n Huis gevul met liefde

Keagan het op ’n plaas in Koelenhof buite Stellenbosch grootgeword. Hy sien homself as ’n gebore “plaaskind”. Oor sy kinderjare koester hy van “die liefdevolste herinneringe” van sy lewe. 

“Ek het met baie min groot geword. Ek noem dit die ‘skraal jare’, maar ek het met baie liefde grootgeword; iets wat baie min mee groot word,” sê Keagan. 

Keagan Bailey is ’n boorling van Stellenbosch, maar beskryf homself as ’n plaaskind, aangesien hy op ’n plaas in Koelenhof grootgeword het. FOTO: Keziah Bailey

Keagan is een van vyf broers. Hy praat met baie liefde en respek van sy ma, Ruby en sy pa, Hannes. Hy meen sy hele familie het ’n goeie sin vir humor en weet hoe belangrik dit is om nie die lewe té ernstig op te neem nie. 

“My ma sou altyd sê: ‘Hou op lag en ghai maak van die mense, julle moet nog eendag kinders maak.’ My pa sou dan antwoord: ‘Hey, los die kinders. Ek maak net so gat van die mense en kyk hoe mooi lyk ons kinders’,” vertel hy. 

Keagan en sy tweelingbroer Keanan Bailey, is glad nie voëls van eenderse vere nie. “Ons persoonlikhede verskil soos dag en nag. Ek is baie sag en ’n sensitiewe mens. Keanan, aan die anderkant, is die hardekwas — dis sy way of die highway,” vertel hy.

Keagan het sy liefde vir storievertel by sy pa geërf. Dit is een van die redes waarom sy pa se afsterwe in 2021 vir hom baie moeilik was om te verwerk. 

“Met die afsterwe van my pa wou ek alles opgee en wou nie meer skryf nie. Ek wou net lê en vergaan,” vertel Keagan. Hy sê sy pa het hulle geleer hoe om op ’n gesonde manier met hul emosies om te gaan. “Hy was die beste mens wat ek ken.”  

Sy pa se afsterwe hom ook nader aan God gebring, sê Keagan, en aan hom ’n nuwe waardering vir die lewe gegee. 

“My ouers het ons geleer om nooit die kind binne jou te verlaat nie. Dis die kind wat ons red van ons seer op aarde,” vertel die draaiboekskrywer Keagan Bailey. Hier pronk Keagan met sy broer, Keanan Bailey, van wie hy soos “dag-en-nag” verskil, volgens hom. FOTO: Verskaf/Keagan Bailey

Eerste voorsmakie 

Keagan se pad na die professionele wêreld is ’n bietjie anders as baie ander mense s’n, aangesien hy geen tersiêre kwalifikasie agter sy naam het nie. ’n Universiteitskwalifikasie is nie noodsaaklik om jou drome na te jaag nie, meen hy. 

“Ons lewe is self ’n  study en ons kan baie daaruit leer,” vertel hy. 

Hy beskryf sy reis in die kreatiewe skryfwêreld as een wat in nedereigheid gewortel is. Sy eerste voorsmakie in die vermaaklikheisbedryf was in 2018 toe hy met sy goeie vriend, die Afrikaanse sanger Refenste Morake, deur die land getoer het. “Ek sou in die kamer bly en gedigte skryf,” vertel hy. 

2018: Die jaar van groot deurbraak 

In 2018, toe Keagan 19 was, het hy sy eerste digbundel, Bloedstroom, saamgestel. Hy gee dit self uit. Dié digbundel handel oor tiener-liefde en teleurstellings. “As jy jonk is glo jy mos alles is liefde, wat wel die waarheid is,” vertel hy. 

In dieselfde jaar het Keagan bevriend geraak met die bekende tweeling Marco en Marcel Spamer. ’n Jaar na die publisering van sy boek het Marcel hom laat weet dat daar ’n pos as draaiboekkoördineerder by die Suidooster-redaksie geopen het. “Ek het dadelik ja gesê,” vertel hy. Hy was 20 toe hy by die Suidooster-span aangesluit het.

Keagan beskryf sy tyd by Suidooster as “magic”, veral omdat hy kon sien wat dit werklik behels om ’n sepie te skep. “Daar was elke dag uitdagings en dis wat dit so lekker maak – uitdagings haal jou uit jou gemaksone uit,” sê hy. 

Hy vertel dat hy, voordat hy die werk gekry het, reeds ’n groot aanhanger van Suidooster was. 

Hy spot dat hy met sy werk as draaiboekkoördineerder al vir mense vertel het dat hy een van die skrywers van Suidooster is. Daardie persoonlike mikpunt het hy wel behaal. 

“Ja, dit was ’n wit leuentjie, maar my belief was baie sterk dat ek eendag vir Suidooster gaan skryf. Ek het law of attraction gebruik om alles wat ek tans in my lewe het, te nader met visie en geloof,” vertel hy. 

Keagan Bailey het die digbundel Bloedstroom in 2018 gepubliseer. Hy was toe slegs 18 jaar oud. Dié digbundel handel oor die liefdeslewens van alledaagse tieners. FOTO: Verskaf/Keagan Bailey

Die lewe ná Suidooster

Keagan het, na vyf en ’n half jaar by Suidooster, die span verlaat, aangesien hy ander uitdagings wou aanpak.  Keagan is deesdae deel van die  produksiespan van die sepie genaamd ‘Die Byl’. Die reeks is geskoei op ’n ware verhaal en handel oor die Suid-Afrikaanse speurder, Piet Byleveld, se loopbaan as speurder en hoe hy reeksmoordenaars vagetrek het. 

Hy is ook tans besig om aan sy eerste groot speelfilm te werk. “My reis tot waar ek vandag is, is deur baie van God se genade,” meen hy. 

Keagan Bailey het vanjaar die Suidooster-span gegroet, na vyf en ’n half jaar se betrokkenheid by dié gewilde sepie. FOTO: Keziah Bailey

Volgens sy wederhelfte, Jade Isaacs, inspireer Keagan haar om nie haar kinderlike kant te verloor nie en ook om altyd te glo. “Dit verbaas my elke keer hoe hy glo in dinge wat nog moet gebeur en dan gebeur dit presies soos hy dit beskryf het,” vertel sy. 

Keagan se raad aan ander jongmense is om nooit op te hou droom nie.  “Waardeer die proses en wees geduldig,” sê hy. “’n Droom sonder gebed en God is soos ’n oseaan wat opdroog.” 

*Daar is geen verwantskap tussen Keagan Bailey en die skrywer nie.

Keagan Bailey is ’n talentvolle skrywer wat beoog om sy voetspore te vestig in die kreatiewe skryfwêreld. FOTO: Verskaf/Keagan Bailey

, ,