Matiesspan bereik podium-posisie by FISU-wêreldstudentspele

’n Maties-atleet het ’n podium-posisie verwerf tydens die Fédération Internationale du Sport Universitaire (FISU) Wêreldstudentespele in Chenga, China. Dié Spele het vanaf 1 to 6 Augustus plaasgevind. Vier Maties-atlete het Suid-Afrika verteenwoordig.  Dit is volgens Maurice Fisher, hoofafrigter van Maties Atletiek.

Matie behaal podium-posise

Jana van Schalkwyk het ’n bronsmedalje in spiesgooi behaal, en is meer as tevrede met haar prestasie. “Dit was ’n baie lang seisoen, so om dit af te sluit met my eerste medalje op internasionale vlak, is vir my baie spesiaal,” het sy gesê. Volgens Van Schalkwyk het sy ook tydens die byeenkoms haar persoonlike rekord van 57.38m tot 57.45m verbeter. 

“Ek is baie opgewonde vir Jana van Schalkwyk, aangesien ’n podiumplek by die Wêreldstudentespele atlete se selfvertoue ’n hupstoot gee en momentum wat voortgaan na die senior of professionele stadium,” het Fisher aan SMF News gesê. 

“Om ’n nuwe persoonlike rekord te kon gooi sowel as ’n medalje [te wen], was beslis ’n wonderlike kombinasie,” het Jana van Schalkwyk, wat ’n derde plek in spiesgooi tydens die Fédération Internationale du Sport Universitaire (FISU) Wêreldstudentespele verower het, gesê. FOTO: Verskaf/Jana van Schalkwyk

‘Bittersoet’ einde 

Volgens Fisher is die resultate ’n bittersoet gevoel, aangesien al vier atlete ’n sterk kans gehad het om die podium te behaal. Breyton Poole, ’n hoogspringatleet en Jesse Perez, wat aan die tienkamp-item deelgeneem het, het beide die finale rondte in hulle onderskeie items bereik. 

“Op die dag kan enigiets by ’n kampioenskap gebeur en daarom voel ek vir Breyton, Jesse en Jason, want hulle kan teleurgesteld [voel oor] hul prestasie. Ek ken hulle as atlete wat hoë standaarde vir hulself stel en hulle was baie opgewonde om hul land en die Universiteit Stellenbosch (US) te verteenwoordig,” het Fisher gesê. 

Jason October, Jesse Perez, Jana van Schalkwyk en Breyton Poole  was deel van die Matiesspan wat Suid-Afrika op 1 tot 6 Augustus tydens die Fédération Internationale du Sport Universitaire (FISU) Wêreldstudentespele verteenwoordig het. Dit is volgens Maurice Fisher, hoofafrigter van Maties Atletiek. FOTO: Verskaf/Jesse Perez

Besering stuit vertoning

Perez het op dag twee van sy tienkamp-item ’n dyspierbesering opgedoen. Hy wou mik om steeds sy item te voltooi en kon daarin slaag om 7de te eindig.  “Ek is baie gelukkig gegewe die omstandighede wat my liggaam deurgegaan het. Ek het eerlikwaar nie gedink dat ek die tienkamp sou kon voltooi nie,” het Perez gesê. 

Volgens Fisher fokus die vier atlete nou op die 2024-seisoen, met die voorseisoen-kompetisie wat in November en Desember begin. 

Jana van Schalkwyk (regs) het op 3 Augustus ’n bronsmedalje verower in spiesgooi by die Fédération Internationale du Sport Universitaire (FISU) Wêreldstudentespele, volgens Maurice Fisher, hoofafrigter van Maties Atletiek. Eda Tugsuz van Turkey het ’n goue medalje verower en Lingdan Su van China het met ’n silwer medalje weggestap. FOTO: Verskaf/Jana van Schalkwyk

, ,