Van harde musiek tot ‘harde kos’: Spoegwolf-broers en hul nuutste ‘drom’

Weggesteek tussen immergroen blare, skuil ‘n “boomhuis” op Dorpstraat wat sorg vir “eksklusiewe” etes. ‘n Bekende gesig speel kitaar op straat en ‘n cappuccino wat lyk soos iets wat net op Instagram gesien word, word voor my neer gesit.

Ek vind uit dat die droom om hierdie “boomhuis” te bou byna twee jaar gelede reeds vir die Spoegwolf-broers, Danie (hoofsanger en kitaarspeler) en Moskou du Toit (dromspeler en sanger), begin het nadat Moskou as sjef gekwalifiseer het.

“Dit was baie duidelik dat Moskou een van die groot sjefs in die land sou word,” sê Danie met trots oor sy broer. “Hy moes ’n keuse maak tussen Spoegwolf en sy droom om ’n sjef te wees. Jy kan nie in ’n band en ’n sjef wees nie.”

Hy vertel dat sy broer die “krag agter Spoegwolf is” en dat ’n groot gedeelte van die groep se klank te danke aan Moskou is. Dit is juis hierom dat Danie hom gevra het om nie ’n ander werk aan te pak nie, maar het dit eerder op homself geneem om ’n alternatiewe inkomste vir beide te vind.

Nie lank daarna nie, het Danie na Niel van Deventer, filmvervaardiger en eienaar van Palama Produksies, gegaan om die TV-program, Moskou se kombuis, aan die Afrikaanse TV-kanaal VIA te verkoop.

VIDEO: Wanneer die son sak, speel Moskou du Toit dromme vir Spoegwolf. Maar wanneer hy hom nie by een van die band se vertonings bevind nie, hoor hy musiek in die kos wat hy maak.

Nadat Moskou met dié TV-program behoorlik naam gemaak het, is die broers se droom op Valentynsdag vanjaar in die Black Horse-sentrum gebore en “Drum Restaurant” gedoop.

“Al die geld wat ons met die [Spoegwolf-] shows gemaak het, het ons net so hierin gesit,” sê Danie oor die befondsing vir hul unieke soort restaurant. ’n Derde party, Finmar Financial Services, het ook geld bygesit om hul droom te bewaarheid.

Moskou vertel dat Drum ’n ander soort ervaring as Demo Kitchen, waar hy voorheen gewerk het, is. “By Demo het ek 12 tot 20 mense per aand gekry vir wie ek gelyk moes kos maak,” sê hy. “Ek het daar [by Demo Kitchen] meer kos-demonstrasies gedoen en vir gaste stories vertel oor die kos wat ek voorberei.”

Volgens hom fokus Drum meer op die fine dining-ervaring en het hulle ook die ligging vir hul restaurant gekies met hierdie idee in gedagte. “Die hele ding met fine dining is dat dit ’n weggesteekte, spesiale ding moet wees waar mense exclusive voel,” sê Danie.  

“Ons fine dining is anders as enigiets anders in die dorp – jy koop nie kos nie, jy koop ’n experience,” voeg Moskou by. “Jy sit binne ’n ‘boomhuis’. Dit is definitief iets om te beleef.”

PHOTO 1.jpg

Die handjievol tafels in Drum Restaurant is netjies gedek en gereed om sowat 45 mense per aand te huisves vir ’n unieke ‘fine dining’-ervaring. FOTO: Jana Wentzel

Die Du Toit-broers beplan om teen Augustus vanjaar nog ’n Drum in Australië en daarna in China oop te maak. Danie verduidelik dat hulle nie beplan om Drum ’n Suid-Afrikaanse franchise te maak nie.

“As jy in Suid-Afrika franchise, is dit nie meer fine dining nie. Niemand fine dine by ’n Spur nie,” sê hy spottend. Dit is ook om hierdie rede waarom die broers verkies om nie te veel naamborde op te rig nie.  

Vir advertensie verkies hulle eerder ’n eiesoortige tegniek: Danie en sy kitaar staan op Dorpstraat buite die ingang na hul boomhuis en sing uit volle bors.

“Dis actually vir my ’n moerse nice ding,” vertel Danie. “Toe ek en Moskou net begin het [met Spoegwolf] en ek nie my huur kon betaal nie, het ek in Andringastraat gaan staan en speel en vandaar het Spoegwolf ontwikkel. Dis vir my byna ’n bygeloof om op straat met ’n kitaar te staan: dis waar opportunities is.”

Geleenthede in die kombuis is egter nie die soort wat Danie sommer aangryp nie. “Gelukkig nie,” sê Danie ná ek hardop wonder of hy ook tyd agter die potte spandeer. “Ek is meer soos die all-round hustler. Noem my eerder die internet-tegnikus.” Moskou val hom egter in die rede en verseker hom van sy waarde: “Danie doen alles in die background, as dit nie vir hom was nie sou hierdie plek nie gestaan het nie.”

PHOTO 2.jpg

Verskuil tussen blare op die boonste vloer van die Black Horse-sentrum op Dorpstraat, is die Spoegwolf-broers, Danie en Moskou du Toit, se nuwe Drum Restaurant. FOTO: Jana Wentzel

Vir harde werk is dié broers nie bang nie. Moskou sê dat hy al byna vyf jaar lank in die restaurant-bedryf is en vertel oor aande waar hy skofte van 06:00 tot 24:00 gewerk het, met skaars twee uur se slaap daarna voor hy opstaan en dié roetine herhaal.

“’n Dag af is ’n dag mors,” sê hy en ek kan nie help om te dink dat dit sy mantra vir die lewe is nie. “Ek is al gewoond daaraan om nie ’n sosiale lewe te hê nie.”

“Alles is basies gedoen net om Spoegwolf lewendig te hou,” sê Danie. “Daar is ’n vrolikheid aan harde werk.” “Veral as jy geniet wat jy doen,” vul Moskou hom aan.

En die harde werk is nog nie klaar nie – Moskou beplan om eendag nóg ’n toekening bo dié wat Spoegwolf verower het, te voeg. Die toekenning? Een waaroor elke sjef droom: ’n Michelin-ster.

Die son gooi sy goud-geel glinster oor die handjievol tafels in die Du Toit-broers se eie boomhuis. “Dis tyd om te gaan speel,” sê Danie en stap na sy kitaar. My cappuccino is leeg, en my tuisgemaakte ganash begin smelt.

Die vraag bly my by: Waarom ’n boomhuis?

Ek dink aan Danie wat vertel het dat hy en Moskou as kinders disse met vye en Tabasco aanmekaar geslaan het, en dan besef ek: boomhuise dui op onskuld. Boomhuise dui op geluk.

PHOTO 3.jpg

Die cappuccino wat by Drum bedien word, gaan gepaard met ’n tuisgemaakte sjokolade-ganash. FOTO: Jana Wentzel 

 

,