US dosent wen gesogte Jan H. Maraisprys

’n Dosent aan die Universiteit Stellenbosch (US) het die gesogte Jan H. Maraisprys vir uitstaande bydraes tot Afrikaans as wetenskapstaal ontvang. 

Prof Rufus Gouws, van die US se Departement Afrikaans en Nederlands, is op 5 Mei as vanjaar se wenner van die Jan H. Maraisprys aangewys, volgens prof Anne-Marie Beukes,  hoof-uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK). 

“Ek het dit glad nie verwag nie en ek het ook nie geweet dat ek vir die prys genomineer is nie,” het Gouws aan MatieMedia per e-pos gesê. “Dit sal nog ’n rukkie neem voordat dit behoorlik ingesink het; daar is tans genoeg werk wat die insink vertraag, maar ek is baie baie dankbaar vir hierdie toekenning.” 

Jan H. Maraisprys

“Afrikaans is ’n volronde taal wat in alle funksies gebruik kan word. Jy kan op enige plek en in enige situasie jou ding in Afrikaans doen en jou sê in Afrikaans sê,” het prof Rufus Gouws, dosent in leksikografie aan die Departement Afrikaans en Nederlands by die Universiteit Stellenbosch, per e-pos aan MatieMedia gesê. FOTO: Verskaf/Prof Rufus Gouws

Gouws is uit ’n groep van twaalf kandidate vir die prys gekies. “[S]y omvattende wetenskaplike prestasies beide internasionaal en nasionaal, sy groot bydrae as studieleier en promotor, sy rol in vakverenigings en as B2-navorser” het in sy guns getel, het Beukes per e-pos aan MatieMedia gesê. 

Die R750 000-prys sal later vanjaar by ’n funksie in Stellenbosch aan hom oorhandig word, volgens die SAAWK se mediaverklaring

‘Diep spore getrap’

“Die toekenning aan Gouws is ’n welverdiende erkenning vir sy harde werk wat oor vele jare strek,” het prof Harold Lesch, voorsitter van US se Departement Afrikaans en Nederlands per e-pos aan MatieMedia gesê. 

Gouws, wat al sedert 1980 by dié departement doseer, het volgens Lesch “leksikografie suksesvol as ’n kernnavorsingsarea” by die departement gevestig.

“Die lekkerte van leksikografie is die aktiewe wisselwerking tussen teorie en praktyk. As teoretiese leksikograwe, werk ons aan allerlei modelle vir allerlei woordeboeksoorte,” het Gouws gesê.  

Jan H. Maraisprys

 “Dit is lekker om te sien hoe die teorie [van leksikografie] in die praktyk toegepas word – en hoe mense baat kan vind by die woordeboeke wat daaruit volg,” het prof Rufus Gouws, wenner van die Jan H. Maraisprys vir 2022, gesê. FOTO: Na’ilah Ebrahim

Die keuringsproses 

Die keurpaneel word deur die SAAWK saamgestel, het Beukes gesê. Keurders word vanuit verskillende dissiplines verkies en moet vir ’n termyn van drie jaar dien, het sy gesê. Vanjaar se paneel het uit toonaangewende akademici bestaan, naamlik prof Albert Grundlingh, prof Debra Meyer, prof Ena Jansen, prof Ian Dubrey en dr Johan van Zyl, aldus ’n mediaverklaring van die SAAWK. 

“Die stigters van die prys … het ’n reglement goedgekeur aan die hand waarvan die besluite van die paneel geneem word,” het Beukes gesê. 

“Gouws se publikasielys is omvangryk en staan tans op 136 artikles in ewekniegeëvalueerde vaktydskrifte, 76 hoofstukke in boeke, en 20 boeke as alleenouteur of as mede-outeur,” lui die mediaverklaring.

“As departement is ons ontsettend trots op ons kollega en dien sy werkywer as ’n inspirasie vir sy medekollegas en ons studente,” het Lesch gesê.

Jan H. Maraisprys

Die Jan H. Maraisprys is deur die Het Jan Marais Nationale Fonds, Naspers en die Universiteit Stellenbosch tot stapel gebring. Al drie instellings het hulle ontstaan deels te danke aan die steun van Johannes Henoch Marais (1860-1915) van Stellenbosch, volgens die mediaverklaring van die Suid-Afrikaanse Akademie van Wetenskap en Kuns. “Jannie Marais was ’n groot ondersteuner van Afrikaans as ’n akademiese en literêre taal,” lui die mediaverklaring. FOTO: Na’ilah Ebrahim