Krisante lok kreatiwiteit na Pniël

Inwoners en blommekwekers van Pniël het onlangs die geleentheid gehad om hulle handewerk by die dorp se jaarlikse blommefees ten toon te stel. Die Pniël Krisantefees het vanjaar op 7 Mei plaasgevind, volgens Janine Myburgh, voorsitter van die Pniël Erfenis- en Kultuurtrust.

Die blomme wat by die Pniël Krisantefees uitgestal word, word in inwoners se tuine gegroei en teen die wind en weer beskerm deur selfgemaakte afdakke, volgens Richard Williams, sekretaris van die Pniël Tuinbou en Huisvlyt Vereniging. FOTO: Karla de Bod

Vir so lank as wat inwoners kan onthou groei die gemeenskapslede van Pniël en die Dwarsriviervallei krisante as ’n stokperdjie, volgens Richard Williams, sekretaris van die Pniël Tuinbou en Huisvlyt Vereniging. Die krisante wat by die fees verkoop word, word dus deur die gemeenskapslede in hulle eie tuine gegroei, het Williams aan MatieMedia verduidelik. 

“Die doel van die [Pniël Krisantefees] is om talentvolle mense in die vallei bymekaar te bring, om ons kultuurerfenis te koester en bewaar, en dit met almal te deel,” het Williams gesê. 

Plaaslike handewerk

Tydens die Pniël Krisantefees het talle inwoners handgemaakte produkte en tuisgebak verkoop. “Ons hoop is dat die fees in die toekoms sal groei met baie meer stalletjies en vermaak, tot ’n fees wat ’n inkomste vir die entrepreneurs in die vallei kan verseker,” het Janine Myburgh, voorsitter van die Pniël Erfenis- en Kultuurtrust, gesê. FOTO’S: Karla de Bod

“In die vallei is [daar] baie talentvolle handwerkkunstenaars wat brei, hekel en naaldwerk doen, asook verf en vele ander stokperdjies beoefen,” het Myburgh gesê. Bobaaskokke bak en brou ook van hulle huise af vir families, partytjies en spesiale geleenthede, volgens Myburgh. 

Die verskeie stokperdjies – buiten net die groei van krisante – wat die gemeenskap beoefen het, volgens Myburgh, aanleiding gegee het tot die ontstaan van die Pniël Tuinbou en Huisvlyt Vereniging in 1983. Danksy dié vereniging kan inisiatiewe soos die Pniël Krisantefees plaasvind en ’n platform bied waar kreatiewe inwoners hulle handewerk met die gemeenskap kan deel, het Williams gesê. 

Die prag van die krisante en samesyn onder die inwoners is jaarlikse hoogtepunte by die Krisantefees, het Richard Williams, sekretaris van die Pniël Tuinbou en Huisvlyt Vereniging, gesê. FOTO’S: Karla de Bod

Pniël se blommekoning

“Die proses [om krisante te groei] neem 9 maande – plantjies word [gegroei] vanuit knipsels en word soos babas versorg, gevoed en gekoester tot die blomme in Mei gereed is om geskou te word,” het Williams gesê.

Volgens Williams staan een van die Pniël-gemeenskapslede as die “blommekoning” bekend. Dié inwoner, Bernard Mentoor, het by vanjaar se Pniël Krisantefees die meeste punte aangeteken tydens die beoordeling van die blomme-uitstallings.

Bernard Mentoor (regs), Pniël se “blommekoning”, groei al vir langer as 50 jaar blomme in sy tuin. Sy vrou, Anne Mentoor, staan langs hom. FOTO: Karla de Bod

Mentoor het gesê sy liefde vir blomme kweek het ontstaan na hy by sy skoonfamilie in die Paarl gekuier het waartydens hy ander mense ontmoet het wat self blomme kweek. Hulle het hom toe ook gemotiveer om dit self te probeer en vanjaar kweek hy al vir meer as 50 jaar blomme in sy eie tuin. 

“Ek hoop daar wag vir my nóg 50 jaar van blomme groei,” het Mentoor gesê.

Die Pniël Krisantefees het by die Pniël Congregational Kerk plaasgevind. “Om in ons wonderlike, asemrowende vallei te kuier en al ons tuisgemaakte produkte te proe, maak dit die ideale verskoning om uit die huis te kom en in die Dwarsriviervallei te kuier,” het Janine Myburgh, voorsitter van die Pniël Erfenis- en Kultuurtrust, gesê. FOTO: Karla de Bod

, , ,