Finaalwenners van Dagbreek, Huis Francie van Zijl en Metiekefields (Metanoia, Pieke en Goldfields gesamentlik) het vanjaar die gehoor betower by die 2026 Universiteit Stellenbosch (US) se Acapella-Finaal.

Die 2026 Universiteit Stellenbosch (US) se 80ste Acapella-finaal het gesorg vir ’n uiters vermaaklike aand. Die Acapella is ’n jaarlikse kompetisie waar sanggroepe aan die US teen mekaar meeding met oorspronklike en verwerkte komposisies. FOTO: Lené Vorster
Die jaarlikse Acapella-finaal, of Sêr, onder leiding van die (US) Studenteraad (SR) se Kuns en Kultuur Kommitee (KuKo), is op 17 Augustus in die US Endler Konservatorium gehou. Die inisiatief is in 1946 as Sangfees gebore, en vier vanjaar sy 80ste bestaansjaar.
Volgens Jan-Hendrik Pretorius, een van vanjaar se beoordeelaars, is daar baie verskillende aspekte waarna die ses beoordeelaars gekyk het en sluit onder andere tempo, ritmiese akkuraatheid en selfvertroue op die verhoog in. Hy het gemeen dat vanjaar se finaliste besonder sterk was.
“Die ding wat vir my die meeste saakmaak is intonasie en toonkwaliteit. Daai twee saam maak of breek die sêr,” het Pretorius gesê.

Huis Francie van Zijl se Francie Forte was die wenners van die Beste Vroue Optrede-prys in die 2026 Universiteit Stellenbosch (US) se 80ste Acapella-Finaal. Hulle het ook die titels vir die beste eie komposisie, beste verwerking, beste uitvoering van ’n Suid-Afrikaanse stuk en beste voorgeskrewe uitvoering gewen. FOTO: Lené Vorster
Die 2025 Acapella-wenners, Huis Francie van Zijl van Tygerbergkampus, se Francie Forte-groep was wéér die wenners van vanjaar se Beste Vroue Optrede prys. Ntombizonke Zine Mazibuko, ook van Francie Forte, het die titel vir die beste vroulike solis gewen.
Francie Forte het ook die titels vir die beste eie komposisie, beste verwerking, beste uitvoering van ’n Suid-Afrikaanse stuk en beste voorgeskrewe uitvoering gewen. Die prys vir beste choreografie is deur Francie Forte en die Dagbreek Eiffelkoor gedeel.

Dagbreek se Eiffelkoor was die wenners van die beste mans optrede in die 2026 Universiteit Stellenbosch (US) se 80ste Acapella-Finaal. Dit is hulle vierde wentitel in vyf jaar. FOTO: Lené Vorster
Dagbreek se Eiffelkoor het weer die titel vir die Beste Mans Optrede-prys gewen by die 2026 US Acapella, nadat hulle in 2025 die wenbeker teen Huis Visser afgestaan het. Dit is die vierde keer in vyf jaar dat die Eiffelkoor dié titel verwerf.
Dannhauser van der Merwe, ’n tweede tenoor en leier van die Eiffelkoor, het gesê dit was ’n groot voorreg om weer vanjaar op die verhoog te kon wees.
“Toe ons ons heel laaste akkoord gesing het, het ek net gehoor hierdie manne het dit,” het hy gesê.
Die Beste Manlike Solis-prys het ook aan Toby de Ruiter van Dagbreek se Eiffelkoor gegaan. De Ruiter het gesê dat die groep effens gespanne was oor die finale optrede, maar dat hulle nuwe gees gekry het toe hulle die verhoog betree het.
Metiekafields, die sanggroep wat uit studente uit Metanoia, Pieke en Goldfields bestaan het, het die titel vir die beste gemengde optrede gewen.
Okuhle “Aux” Mpeta, ’n KuKo-lid, het gesê dat dit ongelooflik was om te sien wat KuKo en die studente vanjaar reggekry het.
“Ek is baie trots op almal wat die tyd en moeite ingesit het om hierdie vertoning te laat gebeur,” het hy gesê.
