Uncle Spike sluit met ’n “Nuwe Riff” af

Die Stellenbosch-gebaseerde musiekgroep, Uncle Spike, het op 12 April 2020 hul nuutste musiekvideo, “Nuwe Riff” vrygestel. Dié musiekvideo is die laaste een op hulle mees onlangse EP, Just Take Care of Yourself.

Volgens Marcel van der Veen, die groep se kitaarspeler, is dié musiekvideo deur die groep se eie vrese vir die toekoms geïnspireer. 

“Ons het gedink aan die druk wat ons ervaar het toe ons werk begin soek het. Sommige mense gaan doen ’n brugjaar en so word dié gedagte weggestoot. Maar wanneer jy begin werk soek én weet dat jy aan hierdie ‘wedren’ deelneem, is dit nogal stresvol,” het van der Veen aan MatieMedia gesê. 

In die musiekvideo ontmoet die kyker ’n karakter wat probeer ontvlug van die trauma in sy eie lewe, het Adriaan Anderson, die regisseur van die musiekvideo, gesê.

“Die karakter word deur ’n klomp struikelblokke gekonfronteer voordat hy uiteindelik vrede maak met sy verlede,” het Anderson gesê.

1. Nuwe Riff

Marcel van der Veen, die groep se kitaarspeler, het sy lyf akteur gehou vir die vertolking van die hoofkarakter in Uncle Spike se nuutste musiekvideo, “Nuwe Riff”. FOTO: Mike Burke

Volgens Francois van Wyk, die hoofsanger en kitaarspeler van die groep, is  “Nuwe Riff” ’n mengelmoes van gevoelens en gedagtes wat almal soms ervaar – en word dit ook só in die musiekvideo weerspieël. 

“Die verse van die liedjie word vergelyk met depressing weather – gevul met woede, twyfel, berou en die bewuswording dat niks in die lewe meer saak maak nie. Die refrein daarenteen is ’n blaaskans van hierdie depressing weather en gee vir die luisteraar ’n meegevoel van geluk,” het Van Wyk gesê. 

Die musiekvideo is treffend en dit reflekteer die kleurvolle denke van elke groepslid, het Evert Achenbach, ’n aanhanger van die groep, gesê. 

Volgens Lood van Niekerk, die groep se dromspeler, het die grendelstaat nie die groep se inspirasie ingeperk nie en beplan hulle om voor die einde van die jaar ’n nuwe album vry te stel. 

“Ons maak op die oomblik soveel as moontlik materiaal, sodat wanneer ons bymekaar kom ons dit net kan uitsing en dit kan omskep in liedjies,” het Van Niekerk gesê. 

 

, ,