Nuwe toep help studente om sente te spaar

Twee studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs koppe bymekaargesit om ’n toep te ontwikkel wat studente inlig oor die spesiale aanbiedings wat elke aand in die dorp beskibaar is. Dit is volgens Arnold Hattingh, eerstejaarstudent in BIng (Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese) aan die US.

Hattingh en sy meisie, Jené Venter, ’n eerstejaarstudent in BCom (Internasionale Bestuur) aan die US, het die toep, DJOL, in Julie vanjaar vrygestel. 

Jené Venter (links) is verantwoordelik vir die data wat op DJOL verskyn en Arnold Hattingh (regs) doen die kodering daarvoor. FOTO: Dominique Fuchs

Die twee baasbreine 

Volgens Venter het die idee vir die toep ontstaan ná ’n gesprek met Hattingh waartydens hy genoem het dat hy ’n toep wil ontwerp. Sy het toe voorgestel dat dit ’n toep oor spesiale aanbiedings in Stellenbosch moet wees. 

“Ons het gedink die app sal mense se lewens beter maak, vir hulle help geld spaar en ’n positiewe impak [op studente] hê,” het Venter gesê. 

Hattingh het vertel dat hy en Venter ’n week voordat hulle met universiteit moes begin, een dag na “elke liewe restaurant in Stellenbosch gestap” het. Die doel was om uit te vind wat besighede se spesiale aanbiedings is en om hulle besigheidskaartjies aan die besighede te gee. 

Hulle het sowat 50 restaurante besoek, het Hattingh gesê.

Arnold Hattingh vertel meer oor die proses agter die skepping van DJOL. “Ek het gesien daar was ’n gaping in die mark – daar was geen ander app soos DJOL in Stellenbosch nie. Ek was baie verbaas en het gedink ‘dit kan nie so moeilik wees nie’. Wel dit was ’n leuen, dit was baie moeilik om te doen, maar dit was steeds die moeite werd,” het Hattingh gesê. KLANKGREEP: Dominique Fuchs

Suksesvolle begin

Volgens Hattingh het meer as 2037 mense teen 3 Augustus die toep afgelaai. “[DJOL] groei baie vinnig – elke dag laai ongeveer 100 mense die app af,” het hy verduidelik.“Die terugvoer van mense kon nie beter gewees het nie en ek kan met trots sê dat die app mense gehelp het om ander mense op lekker dates te vat.” 

Chantelle Davy, sosiale media-verteenwoordiger by Van der Stel-klub, het vertel dat DJOL “verskriklik maklik is om te gebruik”. Dié klub neem ook aan die DJOL-toep deel.

Die toep rangskik spesiale aanbiedings volgens die dag van die week. Gebruikers kan ook kies of hulle wil eet of drink en dan lys die toep al die relevante spesiale aanbiedings. 

“In my hart is ek ’n ekonoom en ek voel inligting moet vrylik beskikbaar wees,” het Arnold Hattingh, een van die ontwikkelaars van die DJOL-toep, gesê. Volgens Hattingh trek hy geen finansiële voordeel uit die toep nie, maar betaal hy self elke keer ’n sent as iemand die toep aflaai. “Ek is R2 000 in die skuld omdat dit soveel gekos het om die toep te publish.” VIDEO: Dominique Fuchs

“Ek dink dit sal veral ideaal wees vir besighede in Stellenbosch, asook vir die studente. Dan bly studente elke dag in die loop met wat in die dorp aangaan,” het Davy gesê.

Volgens Gabi Dos Santos, eerstejaarstudent in BAccLLB aan die US, “weerspieël [DJOL] regtig die energie in Stellies”. 

“Dis baie gerieflik wanneer jy ’n last-minute besluit maak om dorp toe te gaan! Dit is ook lekker om nuwe plekkies te ontdek, wat jy nie noodwendig sou besoek as dit nie was vir die specials wat jy op die app raaklees nie,” het sy gesê. 

DJOL vooruit

Volgens Hattingh trek hy geen finansiële voordeel uit die toep nie. Inteendeel, hy betaal tans self elke keer ’n sent as iemand die toep aflaai. “Ek is R2 000 in die skuld omdat dit soveel gekos het om die toep te publish.”

Hattingh het egter verduidelik dat hulle beplan om die DJOL-toep binne die volgende paar maande uit te brei om sodoende ook studente van die Universiteit van Kaapstad te bevoordeel. 

“Ek is reeds besig om dit te code. As ons moontlik ’n paar vennote in Potchefstroom kan kry, wil ons moontlik ook daarnatoe uitbrei,” het Hattingh gesê.

, , , , , , , ,