Onwettige verkoop van honde steek weer kop uit

Terwyl die verkoop van diere op straat onwettig is, duur die praktyk steeds voort aangesien mense hierdie diere wil red. Dit is volgens Julia Evans, bestuurder by Helderberg Animal Welfare Society

“Hierdie mense word só aangemoedig om diere verder te verkoop, want dit word winsgewend,” het Evans gesê. 

onwettig

Die verkoop van hondjies op straat in Stellenbosch is besig om vinnig toe te neem. “Dis moeilik vir dierewelsynsorganisasies om hierdie verkopers vas te trek, want die oomblik [wat] hulle [’n] gemerkte voertuig gewaar, hardloop hulle weg,” het Julia Evans, bestuurder by Helderberg Animal Welfare Society, gesê. Foto’s slegs vir illustrasie-doeleindes. FOTO: Nazley Wilschutt 

Die verkoop van diere op straat, veral dié van klein honde, is volgens die aangepaste diere-verordeningswet wat deur die Kaapse-metro ingestel is, op 9 Desember 2021 onwettig verklaar, het Evans gesê.

“Indien ’n verkoper vasgetrek word en weier om die dier te oorhandig, het ’n wetstoepasser die reg om die dier te neem en die verkoper van dieremishandeling en die onwettige verkoop van diere aan te kla,” het Evans gesê.

Volgens Stuart Grobbelaar, woordvoerder van Stellenbosch Munisipaliteit, is daar baie min klagtes wat verband hou met diere. 

“Indien so iets wel aangemeld word sal ’n verwysingsnommer aan die persoon gegee word en wetstoepassers sal ondersoek instel. Die meeste van hierdie tipe klagtes gaan gewoonlik direk na skuilings vir diere of na nie-regeringsorganisasies,” het Grobbelaar gesê.

Intussen het ’n anonieme bron aan MatieMedia genoem het dat hulle sedert Maart vanjaar afsonderlike gevalle in Stellenbosch teëgekom het waar verskeie onbekende mans probeer om honde te verkoop. 

Die anonieme bron het aan MatieMedia vertel hulle is onlangs naby die winkel van ’n plaaslike vulstasie in Birdstraat, genader. 

Hierdie mense word só aangemoedig om diere verder te verkoop, want dit word winsgewend

“Soos ek by die ingang wou ingaan, sien ek hierdie man met die hondjie in sy hand besig om dit teen iemand se bors vas te druk,” het die bron gesê. “Hy het na ons en na al die ander mense wat verby hom geloop het, gekom, die hondjie in ons gesig gedruk en gesê dat die hondjie te koop is.”

Volgens die bron, het die man die hondjie so “rof” hanteer dat die hondjie op die man opgegooi het. “Die man het ontsettend kwaad geraak en die hondjie neergegooi, ’n ketting om die hondjie se nek gesit en hom agtertoe gesleep,” het die bron vertel.

Die anonieme bron sê hul pogings om hulp te ontbied was onsuksesvol. 

Hondjies kwesbaar en ondervoed

Volgens Kelly Leukes, ’n Universiteit Stellenbosch (US)-student, is sy en haar vriende ook in Birdstraat genader deur ’n man met twee hondjies.

Volgens Leukes het die man daarop aangedring dat dit sy hondjie is. “Dit het gelyk asof die hondjie vir dae lank niks geëet het nie. My vriend was verskriklik ontsteld en het die hondjie vir R500 van die man gekoop,” het Leukes vertel.

Kelly Leukes vertel aan MatieMedia in watter toestand die hondjies is wat iemand onlangs aan haar en vriende probeer verkoop het. KLANKGREEP: Nazley Wilschutt

Die onwettige verkope van hondjies is regdeur die jaar ’n probleem, maar neem veral in Februarie toe tydens die universiteit se eerstejaarsoriëntasie, volgens Jessica Perrins, woordvoerder vir die Animal Welfare Society Stellenbosch en hoof van geldinsamelings. 

Evans maan troeteldiereienaars om, indien hul troeteldier gesteel word, dit by die plaaslike diereorganisasie aan te meld en dit ook op die Lost and Found-groepe op sosiale media te plaas.  

“Die brandpunte in Stellenbosch sluit in Dorpstraat, Stellenbosch-kampus, Die Neelsie Studentesentrum, Welgevonden-verkeersligte, en in die dorp,” het Perrins gesê.