Crystal-Donna Roberts debuteer met jeugroman

Die bekroonde aktrise Crystal-Donna Roberts het onlangs haar eerste jeugroman by ’n plaaslike boekwinkel bekendgestel.

Roberts het tydens die geleentheid in gesprek getree met Fiona van Kerwel, die projekbestuurder van Woordfees en die Universiteit Stellenbosch (US) se maatskaplike bemagtigingsinisiatief, Woorde Open Wêrelde (WOW).

“Met die skryf was dit nog altyd vir my so lekker om die volle prentjie te kon skep,” het Crystal-Donna Roberts, skrywer van Speurder Sammi, gesê. FOTO: Micaleb Lawrence

Crystal betree die skrywerswêreld

Skryf bied aan haar die geleentheid om “in beheer te wees” en om self die volle beeld te kon skep, het Roberts tydens die bekendstelling van Speurder Sammi, op 3 Oktober by Stellenbosch Books, gesê.

“As ’n aktrise is alles vir jou klaar geskep. Die ligging waar die toneel afspeel, wat die karakters gaan aantrek en wat die storie is. En al wat ons moet doen is om dit lewe te gee,” het Roberts gesê. “Maar met skryf kon ék besluit hoe elke karakter gaan klink en ek kan besluit waar dit gaan afspeel.” 

Sandi Goliath, Roberts se tante, meen dat Roberts uit ’n baie kreatiewe familie kom. “Sy het nie regtig ’n keuse gehad [anders] as om te kyk na die mense aan wie sy haar hele lewe lank blootgestel is nie,” het Goliath verduidelik. 

Crystal-Donna Roberts

Speurder Sammi, die bekroonde Suid-Afrikaanse aktrise Crystal-Donna Roberts se eerste jeugroman, is op 3 Oktober by Stellenbosch Books bekendgestel. FOTO: Micaleb Lawrence

Speurder Sammi

Die hoofkarakter, Sammi, is tydens Roberts se tyd by die Jakes Gerwel-stigting (JGS) geskep, volgens Michelle Cooper, ’n uitgewer van kinder- en jeugboeke by NB-Uitgewers. “Daar was nie karakters soos [Roberts] in haar boeke toe sy ’n kind was nie […],” het Cooper gesê. 

Roberts het juis besluit om vir Sammi 13 jaar oud te maak omdat daar vir haar “iets baie mooi omtrent die jaargroep” is. “Dit is ’n fase van oorgang,” het sy verduidelik.

Crystal-Donna Roberts

Crystal-Donna Roberts se familie en vriende het op 3 Oktober by Stellenbosch Books byeengekom vir die bekendstelling van haar eerste jeugroman, Speurder Sammi. Op die foto hierbo is Roberts se tante, Sandi Goliath, en familievriend, Jacqui Setoaba, te siene. FOTO: Micaleb Lawrence

“Sammi is talentvol, kunstig en nuuskierig, sy’s nie bang nie,” het Van Kerwel gesê.

Jakes Gerwel-stigting

Roberts het in 2021 aan die JGS se mentee-program vir aspirante skrywers deelgeneem, het Suzette Kotzé-Myburgh, ’n vryskut-uitgewersredakteur en Roberts se mentor in die JGS-program, en ook ‘n vryskut-redakteur in die uitgewersbedryf, gesê.

Die Jakes Gerwel-stigting (JGS) se borgskap van die mentorskapprogram is baie waardevol, aangesien mentorskap tydrowend en duur is, het Suzette Kotze-Myburgh, Roberts se JGS-mentor en ’n vryskut-uitgewer, gesê. FOTO: Micaleb Lawrence

Die JGS-program fokus daarop om jong en aspirant skrywers te help om hulle talente uit te brei en te bevorder met ’n verskeidenheid programme wat wissel van “mentorskapprogramme tot werkswinkels”, volgens hulle webtuiste.

Myburgh het gesê dat die mentorskapprogram vir ontwikkelende skrywers ’n jaar lank duur met kwartaallikse vergaderings by die Paulet-huis in Somerset-Oos. “Mentorskap is tydrowend en dus duur en daarom is die JGS-borgskap so waardevol,” voeg sy by. 

Crystal-Donna Roberts

 Crystal-Donna Roberts se Speurder Sammi is op die tienerlesersmark gemik en handel oor die lewe van die 13-jarige Sammi wat op pad hoërskool toe is, maar haarself in die Noord-Kaap by haar ouma en oupa op hulle plaas in ’n dorpie vol kansvatters bevind, volgens NB-Uitgewers se webtuiste. FOTO: Micaleb Lawrence

, , , , , ,