Tegniese fout wys eksamenvraag vier ure voor aanvang

In ’n onlangse Politieke Wetenskapeksamen wat aanlyn plaasgevind het, kon studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) die eksamenvraag sien vier ure voordat hulle moes begin skryf het. 

Dit, volgens Fadeelah Williams, ’n derdejaarstudent in BA (Geesteswetenskappe) aan die US, kom ná ’n tegniese fout op die universiteit se aanlyn leerbestuurstelsel, SUNLearn. Williams is ook die klasverteenwoordiger van die Politieke Wetenskap 314-klas wat dié eksamen moes aflê.

Die tegniese fout het volgens Williams op Saterdag, 31 Augustus gebeur.

“Die tegniese fout het rondom 10:00 gebeur, en die vraag moes tot 14:00 verskuil gewees het,” het Williams gesê.

Studente is omtrent vyf minute ná die aangewese skryftyd deur hulle dosent in kennis gestel dat die eksamenvraag verander het, volgens Williams. 

“Aangesien ons later begin het, het studente vir 10 minute ekstra gevra om te skryf,” het Williams gesê. “Ek het [die dosent] gevra daarvoor, maar ongelukkig het sy dit nie toegestaan nie,” het sy beweer. 

Volgens Williams het die US se Inligtingstegnologie-eenheid (IT) aan haar gekommunikeer dat die fout ’n fratsongeluk was, aangesien die webblad reg ingestel was. 

Martin Viljoen, US-woordvoerder, het gesê dat die voorval ’n geïsoleerde insident was en die universiteit het ’n “uitstekende baanrekord” met die hoeveelheid aanlyn assesserings wat tot dusver foutloos verloop het. 

Aanlyn eksamen

Aanlyn assesserings bied verskeie uitdagings, soos die tegniese fout wat gelei het tot die onthulling van ’n eksamenvraag vier ure voordat studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) dit moes sien. FOTO: Carla Visagie

Studente het aanvanklik gesukkel om iemand in die hande te kry om uit te vind of hulle moet voortgaan met die eksamen of nie. Dit was volgens Brynley van Aardt, ’n derdejaarstudent in BA (Internasionale Studies) aan die US wat dié eksamen afgelê het. 

“Omdat dit ’n aanlyn Saterdag-eksamen was, was dit baie moeiliker om iemand in die hande te kry wat kan help,” het Van Aardt gesê. “Ons kon nie net hardloop om iemand te gaan kry nie.” 

Om studente met na-uurse eksamens by te staan, is daar ’n e-assesseringshulplyn, het Viljoen gesê. 

Aanlyn eksamen

Moodle, die sagteware wat die Universiteit Stellenbosch (US) vir SUNLearn gebruik, word wêreldwyd vir digitale leerbestuurstelsels gebruik. Behalwe vir die toename in aanlyn verkeer op SUNLearn, was daar wêreldwyd ook meer universiteite wat na aanlyn leer oorgeskakel het. Volgens Moodle se webtuiste, was daar slegs 3 930 mense wat kursusse oor dié sagteware voor die aanvang van die Covid-19-pandemie gedoen het, terwyl daar aan die einde van 2020 sowat 14 174 mense was wat opleiding daarvoor ontvang het. Die hoeveelheid toestelle wat van die Moodle-sagteware gebruik maak, het ook aansienlik toegeneem sedert die aanvang van die pandemie. GRAFIKA: Carla Visagie

Die Moodle-sagteware, ’n aanlyn leerbestuurstelsel wat deur die Australiese maatskappy Moodle HQ bestuur word, word gebruik om aanlyn eksamens op SUNLearn te huisves, volgens die US-webtuiste

Aanlyn eksamens en akademiese integriteit

Buiten tegniese foute wat kan lol met aanlyn eksamens, was daar ook ’n “ongewone toename in akademiese wangedrag” vanaf 2019 tot 2020. Dít lui uit ’n onlangse persverklaring deur Prof. Stan du Plessis, hoof van die US se Institusionele Komitee vir Sakevoortsetting vir die Covid-19-pandemie.

Die US is besig om die moontlikheid van die aanwending van digitale programme soos ProctorU te ondersoek wat hierdie tipe eksamens monitor, het Viljoen gesê. Daar is egter nog nie besluite in hierdie verband geneem nie, het hy bygevoeg. ProctorU is ’n aanlyn program waarmee studente se gedrag gedurende aanlyn eksamens gemonitor kan word, volgens die program se webtuiste.

Aanlyn eksamen

Die hoeveelheid gevalle van akademiese wangedrag het toegeneem van twee in 2019 tot 183 in 2020. Dit lui uit ’n persverklaring deur Prof. Stan du Plessis, hoof van die Universiteit Stellenbosch (US) se Institusionele Komitee vir Sakevoortsetting vir die COVID-19-pandemie. GRAFIKA: Carla Visagie

Hierdie artikel is op 6 Augustus 2021 en op 10 Augustus opgedateer. In die oorspronklike weergawe van die artikel is genoem dat Martin Viljoen gesê het dat ProctorU ’n digitale program is wat akademiese integriteit verseker deur studente se gedrag met ’n webkamera en mikrofoon te monitor gedurende aanlyn eksamens. Hierdie inligting is egter vanaf ProctorU se webtuiste verkry. In die oorspronklike weergawe van die artikel is ook genoem dat Martin Viljoen “die onvoorspelbaarheid van die insident benadruk” het, terwyl hy eerder gesê het dat dié voorval “’n geïsoleerde insident” was.

, ,