Premiére Atelier: Virtuele teaterfees maak buiging

Die Universiteit Stellenbosch (US) se dramadepartement se jaarlikse Premiére-teaterfees sal vanjaar vir die eerste keer virtueel plaasvind. Dít is volgens die fees se organiseerders, Elana-Marié Snyman en André Gerber. 

Twaalf oorspronklike teaterproduksies sal tussen 10 Augustus en 14 Augustus te siene wees as deel van Premiére Atelier – ’n nuwe digitale been van die fees wat gratis op YouTube en Facebook gekyk sal kan word. 

“Ons hoop dan dat die [toeskouers] van die geleentheid gebruik maak om deel te neem aan die skeppingsproses, en om weer teater […] te help opbou,” het Gerber gesê. 

Die mees belowende produksie sal ’n R5 000-kontantprys ontvang op die laaste dag van die fees se prysuitdeling, volgens Snyman. 

“Hierdie produksie word ook uitgesaai op die Toyota US Woordfees se DStv-kanaal tussen 1 en 7 Oktober,” het Snyman gesê. Volgens die Woordfees-webtuiste, sal dit op kanaal-198 te siene wees. 

Premiére Atelier vorm deel van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se “jaarlange virtuele fees”, volgens Hugo Theart, artistieke direkteur van die Oudtshoorn-fees. Die KKNK help ook met die bestuur van die aanlyn aanbieding van Premiére Atelier, het Theart gesê. 

“Die deelnemers is teater se talent van môre, en as fees bied ons graag ’n breër platform waar die talent landswyd gesien kan word,” het Theart per e-pos aan MatieMedia gesê.

Premiére

Micaleb Lawrence, skrywer van die produksie Melanin’s Colony, verduidelik hoe die skakel na ’n virtuele medium die aanbieding van ’n teaterstuk kan beïnvloed. STEMOPNAME: Verskaf/Micaleb Lawrence via WhatsApp

Buiten Premiére Atelier, word verhoogopvoerings voor ’n gehoor ook vir later vanjaar beplan, maar “dit is ’n bietjie moeilik om nou ’n datum daaraan te heg”, het Gerber gesê.

Geleentheid vir innovering

Premiére Atelier bied waardevolle ondervinding in ’n bedryf wat al hoe meer op aanlyn verspreiding steun, meen Micaleb Lawrence, skrywer van die produksie Melanin’s Colony, wat by dié fees te siene sal wees. 

“Ons dink dis belangrik dat Premiére eerder verander is en nie afgestel is nie, omdat dit só ’n goeie geleentheid vir blootstelling vir dramastudente is – veral in ’n tyd soos hierdie waar ons nie baie geleenthede kry om op die verhoog te wees nie,” het Lawrence gesê.

Micaleb Lawrence, skrywer van die produksie Melanin’s Colony, verduidelik hoe die skakel na ’n virtuele medium die aanbieding van ’n teaterstuk kan beïnvloed. STEMOPNAME: Verskaf/Micaleb Lawrence via WhatsApp

Gerber wil teaterentoesiaste aanmoedig om nie net die gratis vertonings by te woon nie, maar om ook deel te neem aan die videobesprekings ná elke aand se program.

“Ons wil graag mense uitnooi om te help, want as die publiek deel kan vorm van hoe ons nou teater van die grond af weer probeer vestig, dink ek wil ons graag van hulle hoor […] wat hulle wil sien,” het hy gesê.

  • Skakels na die vertonings en besprekingsessies kan op die KKNK-webtuiste gevind word.
, , , , , , ,