#SUAC2019 is hier: Wat jy moet weet oor vanjaar se kompetisie

Maak reg om die langnaweek op ’n hoë noot af te skop, want die gewilde Universiteit Stellenbosch Acapella-kompetisie (SUAC) se uitdunronde begin môreaand.

Dit is die tweede jaar wat dié kompetisie, voorheen bekend as Kleinsêr, in sy nuwe gedaante aangebied word. Vanjaar is daar ook ’n “oop kategorie” bygevoeg vir groepe wat nie met ’n spesifieke koshuis of PSO geaffilieer is nie. Benewens die oop kategorie kan studente ook in een van drie ander kategorieë deelneem, naamlik mans, vroue en gemeng.

SZ_SUAC

Die manne van Simonsberg, verlede jaar se wenners in die mans-kategorie, tydens verlede jaar se eindronde. FOTO: Edo Mostert

Shaen Mare, mede-aca-leier van The Buskers, dink die oop kategorie is ’n goeie idee. “Ek is self iemand wat al te lank uit die koshuis is en nie noodwendig geaffilieer is met ’n PSO nie. Dit gee my weer die geleentheid om op die acapella-verhoog te klim,” verduidelik hy.

The Buskers bestaan uit 18 lede en is almal huidige of oudlede van die universiteitskoor. Mare skerts dat The Buskers eintlik maar net “ ’n klomp vriende is wat besluit het hulle wil saam in ’n groep sing”.

Hy voel nie regtig op sy senuwees vir die kompetisie nie. “Ek dink nie daar is te veel druk nie, want daar is niks om dit mee te vergelyk nie. Dit is die eerste keer wat [die oop kategorie] gedoen word. Dis basies ’n clean slate,” het hy gesê.

Mare meen The Buskers het goeie sangers met heelwat ervaring en sterk stemme. Oor hulle program sê hy: “Ons het musiek gekies waarvan ons hou en musiek wat ons dink bietjie kan off show wat ons as sangers kan doen.”

Van Wyk Venter, aca-leier van The Overtones, meen aangesien die oop kategorie nuut is, dat niemand regtig weet wat om te verwag nie en dat hulle “effens op hulle senuwees” is.

“Ons sou eintlik eers glad nie ingeskryf het nie, want ons doen hierdie al vir ’n paar jaar, maar net vir die lekker. Aangesien die oop kategorie nou daar is, het ons besluit om netsowel deel te neem.”

The Overtunes sing al vir ’n paar jaar saam a capella-musiek. “Ons het maar net aangehou sing en die groep het groter en kleiner geword tot waar hy nou vandag is. Lede het gekom en gaan.”

Huis ten Bosch, vroue-wenners van die nasionale kompetisie, tydens verlede jaar se eindronde.

Huis ten Bosch, vroue-wenners van die nasionale kompetisie, tydens verlede jaar se eindronde. FOTO: Edo Mostert

Oorslaap in die Neelsie dalk geskrap

Vir die a capella-bittereinders wat beplan het om deel te neem aan die oorslaap in die Neelsie vir halfeindronde- of eindronde-kaartjies, is daar miskien slegte nuus. Aangesien kaartjies vir die volgende rondes aanlyn gekoop kan word, sal die oorslaap nie meer plaasvind nie.

Blaine Josephs, Kuko-voorsitter, sê dit word nog gedebatteer of die oorslaap in die Neelsie moet voortgaan of nie.

“Ons het nou aanlynkaartjies, maar aangesien dit ook ’n tradisie is en mense in die Neelsie oorslaap vir kaartjies, moet ons dit miskien hou.”

Die US Acapella-reklamemateriaal sê dat die kaartjies vir die halfeindronde en eindronde op Quicket te koop sal wees, maar dié kaartjies is nog nie op Quicket beskikbaar nie.

 

DSC_7326

Wilgenhof se Kraaie tydens verlede jaar se eindronde. FOTO: Edo Mostert

Kaartjies

Die uitdunronde begin môre en hou aan tot Dinsdag 13 Augustus. Al die optredes vind in die Endler Saal van die US Konservatorium plaas. Kaartjies beloop R50 per dag indien jy dit aanlyn koop, of kan by die deur teen R60 gekoop word.

Daarna volg die halfeindronde wat op 21, 24 en 25 Augustus sal plaasvind. Hiervoor sal jy ’n rapsie meer moet opdok, want kaartjies beloop R75.

Die eindronde sal op 1 September plaasvind, en dit gaan jou ’n stewige R130 uit die sak jaag.