Maties se vroue-rugbyspan laat Ikeys behoorlik les op sê

Die Universiteit Stellenbosch (Maties) se vroue-rugbyspan het behoorlik vrouemaand afgeskop toe hulle Saterdagoggend die Universiteit van Kaapstad (Ikeys) se span 40-0 in hul eerste tuiswedstryd op Danie Craven-stadion in Stellenbosch geklop het.

Maties het ‘n groot deel van die wedstryd oorheers, wat dit vir die Ikeys bemoeilik het om ʼn deurbraak te vind. Die Maroen-masjien was van die eerste minuut af op die aanval.

Maties vrouerugbyspan na hul oorwinning teen Ikeys, Saterdag. FOTO:Dominique Jeftha

Johann Zeier, hoofafrigter van die Maties-vroue-rugbyspan, sê “Ek dink dit was ʼn goeie wedstryd, die dames het ʼn goeie struktuur gehad en het by die wedstrydplan gehou.”

“Ek dink ons ​​het baie uitgevoer, ons kon miskien die bal nog ‘n paar fases langer gehou het.”

Zeier sê “die dames het regtig hul alles gegee, dit was ons eerste tuiswedstryd, ek moet krediet gee waar dit gegee moet word.”

Die skare was van die begin af aan Maties se kant.

Margaret Meiring (49), ondersteuner en ma van Amber Meiring, een van die spelers, het behoorlik van haar laat hoor langs die kant lyn.

Volgens Meiring senior was die wedstryd “uitstekend maar Maties kan nog verbeter veral as dit kom by die spasie tussen die spelers.”

“Hulle speel te na aan mekaar,” sê Meiring.

Ropafadzo Madiya, eerstejaar BCom finansiële rekeningkunde student was vrou van die wedstryd.FOTO:Dominique Jeftha

Ropafadzo Madiya (binnesenter) van Zimbabwe en eerste jaar BCom finansiële rekeningkunde student is as vrou van die wedstryd aangewys.

Ek is gelukkig en voel geëerd dat ek as vrou van die wedstryd aangewys is. Dit was ‘n groot dag vir my, want dit was net my tweede wedstryd vir Maties,”sê Madiya.

Madiya sê dat die wedstryd goed verloop het, dat hulle goed gestruktureerd was en kommunikasie baie goed was.

“Maar ons kan verbeter, ons moet net hard werk om die foute wat ons gemaak het, reg te stel,” sê Madiya.

Ikeys word huistoe gestuur sonder enige punte.FOTO:Dominique Jeftha

 

Volgens Zeier het Madiya “ʼn fantastiese spel gespeel en verskriklik hard gewerk.”

“Sy het baie duikslae gemaak,” sê Zeier.

Zeier sê “ons het nog twee wedstryde in die liga en tot dusver het ons nog nie ‘n wedstryd verloor nie, so dit gaan goed.”

, ,