Studente leer selfverdediging aanlyn 

 Die Studenteraad van die Universiteit Stellenbosch (US) se veiligheidsportefeulje bied vanjaar vir die eerste keer die geleentheid aan studente om aanlyn selfverdedigingsklasse by te woon. 

Dié klasse word in samewerking met Monique-Ann Meyer, ’n Stellenbosse biokinetikus, aangebied en word op die Studenteraad se Instagram-profiel beskikbaar gestel. 

Die eerste klas het op 16 September plaasgevind.

Studente aan die Universiteit Stellenbosch is op sosiale media aangemoedig om gebruik te maak van die aanlyn selfverdedigingsklasse. FOTO: Instagram/@specialneedssu

Studente aan die Universiteit Stellenbosch is op sosiale media aangemoedig om gebruik te maak van die aanlyn selfverdedigingsklasse. FOTO: Instagram/@specialneedssu

 

Video’s sal elke Woensdag, oor ’n tydperk van vyf weke, opgelaai word, het Christina Brazier, voorsitter van die US se Studenteraad se veiligheidsportefeulje, gesê. 

“Ons wil studente met die nodige vaardighede toerus om hulself te beskerm in ’n situasie waar hulle ongemaklik voel,” het Brazier gesê. “Ons wil nie hê dat studente kwesbaar teen geweld moet wees nie.” 

Volgens Meyer is daar tydens die eerste klas baie inligting oor selfverdediging gedeel. 

“Bewustheid van jou omgewing, die gebruik van pepersproei, kwesbare areas op ’n aanvaller se liggaam en praktiese selfverdedingstegnieke, is van die temas wat ons in die video’s aan studente sal verduidelik,” het Meyer gesê.

Dít gee aan deelnemers ’n oorsig van die belangrikste aspekte oor selfverdediging wat ’n beslissende faktor is in gevaarlike situasies, het Meyer gesê. 

“Die stygende gevalle van geslagsgebaseerde geweld regoor die land was die motivering vir die begin van die klasse,” het Brazier gesê.

Volgens Brazier was dit belangrik om ’n ervare instrukteur kry. 

“Ons het Monique-Ann Meyer aangestel na aanleiding van haar ervaring in vegkuns. Daarna het ons saam met kampussekuriteit gewerk om die beste tegnieke van selfverdediging te identifiseer om in elke video te inkorporeer,” het Brazier gesê. 

 Monique-Ann Meyer sal in vyf video’s, van vyf minute elk, studente bekwaam met die basiese tegnieke om hulself in ’n gevaarlike situasie te beskerm. FOTO: Verskaf/Monique-Ann Meyer

Monique-Ann Meyer sal in vyf video’s, van vyf minute elk, studente bekwaam met die basiese tegnieke om hulself in ’n gevaarlike situasie te beskerm. FOTO: Verskaf/Monique-Ann Meyer

 

“Veiligheid is ’n voortdurende kwessie en dié selfverdedigingsklasse is ’n manier om dit aan te spreek. Elke student kan iets uit die video’s leer,” het Melany le Roux, van die US se kampussekuriteit, gesê. 

Die aanvanklike idee was om die klasse fisies aan te bied, maar aanpassings moes gemaak word om dit virtueel moontlik te maak, het Brazier gesê. 

“Die interaksie tussen die instrukteur en die student word gemis – maar ons hoop dat studente steeds baat sal kan vind by die klasse,” het Brazier gesê. 

In die eerste video van die reeks gee Meyer meer duidelikheid oor die kwesbare areas op ’n aanvaller se liggaam. VIDEO: Verskaf/Monique-Ann Meyer 

Volgens Stephanie Visagie, ’n eerstejaar-onderwysstudent aan die US, wat aan die eerste klas deelgeneem het, sien sy uit na wat die res van die klasse gaan oplewer. 

“Ek het besluit om die klasse by te woon omdat die wêreld waarin ons vandag leef glad nie veilig is nie. Dit is belangrik om te weet hoe om jouself in gevaarlike situasies te beskerm,” het Visagie gesê. 

 

,