Oudste winkel op Stellenbosch toets die waters met opwipwinkel

Die oudste winkel op Stellenbosch het hulle eerste opwipwinkel van stapel gestuur met die hoop om meer voete na die winkel toe te lok. 

Dié geleentheid het vroeër vandeesweek by Oom Samie se Winkel, wat vanjaar ’n 115 jaar oud is, plaasgevind.  

“Ons het saamgestem met die opwipwinkel-idee om meer mense te lok na Oom Samie – veral Stellenbossers,” het Charla Kriel, bestuuder van Oom Samie se Winkel, gesê.

Oom Samie se Winkel is die oudste perseel wat op Stellenbosch handeldryf, het Charla Kriel, bestuurder van Oom Samie se Winkel, gesê. FOTO: Leo Cordom.

Plaaslike besighede, Beblom, Grow your own funk, Muratie Estate en Down to Earth, het ook by dié opwipwinkel uitgestal.

Volgens Kriel is dit ook ’n manier om aan ander besighede en entrepreneurs die nodige blootstelling te bied.  

“Ons moet veral nou, in hierdie tyd, mekaar se hande vashou,” het sy gesê.

Volgens Kriel was die opslaanwinkel ’n manier om klein besighede blootstelling te bied. FOTO: Leo Cordom

“Ons moet veral nou, in hierdie tyd, mekaar se hande vashou,” het sy gesê. 

Dit is ’n geleentheid om aan klein besighede ’n hupstoot te gee na die impak van die Covid-19-pandemie, het Axel Maas, stigter van Down To Earth, gesê.

“Ons het ook gehoor dat die winkel in die moeilikheid is en terselfdetyd wil ons ook ’n teenwoordigheid hê in die hart van Stellenbosch,” het Maas aan MatieMedia gesê. 

Volgens Stuart Grobbelaar, woordvoerder van Stellenbosch Munisipaliteit, skep die munisipaliteit ’n skoon en funksionerende omgewing wat aantreklik is vir belegging, besoekers en besigheid.

“Oom Samie se Winkel is ’n ikoniese instelling op Stellenbosch wat al vir generasies talle besoekers en belanghebbendes lok,” het Grobbelaar gesê. 

Oom Samie se Winkel het weens die Covid-19-pandemie ’n groot hou gevat. Dié geleentheid hoop om meer voete na die besigheid te lok. INSTAGRAM-PLASING: @oomsamiesewinkel

Die winkel se bemarkingsspan, Duidelik Digital, het met dié idee vorendag gekom, het Kriel gesê. 

“Met lockdown en restrictions het Oom Samie gesukkel om nog voete in die winkel te kry, want mense weet nie wat alles in Oom Samie is nie,” het Mirandi Nel, mede-stigter van Duidelik Digitaal, gesê. 

Volgens Nel is ’n opwipwinkel die beste manier om plaaslike voete in Oom Samie se Winkel te kry. 

Oom Samie se Winkel se toekoms gaan nóg meer innoverende idees inhou, het Kriel gesê.            

“As jy eers die saadjie plant, dan kan jy eers kyk of jy dit kan uitvoer. Ons sal dit van hier af vorentoe vat,” het sy gesê.