Studente-innovasie in kollig by entrepreneurskap-kompetisie

Twee studente van die Stellenbosch Universiteit (SU) het onlangs deurgedring tot ’n provinsiale entrepreneurskompetisie waar die wenner met tot R100 000 sal wegstap. Dit is volgens Leana Kotze, organiseerder van die geleentheid. 

Mihle Njokweni en Yaa Addo-Bediako, beide derdejaarstudente in chemiese ingenierswese aan SU, het op 4 Mei saam met ander studente hul sake-idees by die US se Launchlab aan kundiges in die bedryf voorgelê. 

Dié twee is toe as wenners van die Entrepreneurial Sparks-kompetisie aangewys en sal gevolglik die geleentheid kry om die SU by die komende 2023 EDHE Entrepreneurship Intervarsity-kompetisie, wat van 18 tot 27 Oktober aangebied word, te verteenwoordig.

“Ons wil hê entrepreneurs, beleggers en diegene wat opgewonde is oor entrepreneurskap, moet ’n plek hê om bymekaar te kom en ’n gemeenskap van passievolle mense te bou,” het Leana Kotze, organiseerder van die Entrepreneurial Sparks-geleentheid, aan SMF News gesê. FOTO: Sebastian Paulus

Eerste stap na sukses

Die geleentheid was die eerste stap na sukses, volgens Yaa Addo-Bediako, entrepreneur en stigter van e-HHiKe, ’n toep waar studente wat nie hul eie motors het, direk gekoppel word met ander verbruikers wat lang aftstande ry. 

Addo-Bediako sal SU in Oktober vanjaar by die Wes-Kaapse entrepreneurskompetisie verteenwoordig. 

“Ek het ’n gaping in die mark gesien en dit het my [geïnspireer] om ’n toep te skep wat mense soos ek gaan help – studente wie nie motors besit nie, maar steeds na plekke soos Kaapstad wil reis. [Die platform wat LaunchLab] vir entrepreneurs bied, het my gehelp om my ambisie raak te sien,” het sy gesê.  

Addo-Bediako glo dat deur haarself goed voor te berei en haar besigheidsplan te versterk, sy ’n goeie kans staan in die 2023 Entrepreneurship Intervarsity-kompetisie. 

“My doelwitte vir die Wes-Kaapse kompetisie, is om my idee en besigheidplan perfek te kry en te verseker dat ek goed voorbereid is vir die kompetisie,” het Yaa Addo-Bediako, stigter van e-HHiKe en een van die plaaslike wenners van die Entrepreneurial Sparks-kompetisie, aan SMF News gesê. FOTO: Sebastian Paulus 

Netwerk is belangrik

“Ons wil hê entrepreneurs, beleggers en diegene wat opgewonde is oor entrepreneurskap, moet ’n plek hê om bymekaar te kom en ’n gemeenskap van passievolle mense te bou,” het Kotze aan SMF News gesê.

Sahil Affriya, stigter van Savant, ’n sagteware-maatskappy wat ondersteuning bied vir ontwikkelende besighede, was een van die hoofsprekers by die geleentheid en het sy pad na sukses met studente en bywoners tydens die byeenkoms gedeel. 

“Die bou van ’n goeie netwerk en om [nuwe] mense te ontmoet, is baie belangrik. Dit maak dinge baie makliker vir die entrepreneur wanneer hulle hul idees wil toets en befondsing soek,” het Affriya gesê. 

Mike Heyink, medestigter van Yellow, ’n plaaslike verspreidingsnetwerk, en Sahil Affriya, stigter van Savant, ’n sagtewaremaatskappy wat ondersteuning bied vir ontwikkelende besighede, was die hoofsprekers by die Entrepreneurial-Sparks geleentheid.  Hulle het hul pad na sukses met studente en bywoners tydens die byeenkoms gedeel. FOTO: Sebastian Paulus

, , , ,