Strand: Tientalle dakloos na stormsterk wind 

Sowat 40 huishoudings in ’n informele nedersetting in die Strand is dakloos na verwoestende winde van 7 April. Dit is volgens Chantal Cerfontein, voorsitter van Sub-raad 8 in Strand.

’n Inwoner van Morkel Cottage binne sy huis terwyl die stormwind dit wegsleep. FOTO: Ubaid Abrahams

Verwoestende winde waai

Elton Langenhoven, ’n inwoner van Morkel Cottage, het gesê dat hy sonder herberg is nadat die stormwind sy huis vernietig het.

“Ek het nog gelȇ in die kooi in. Toe ek opkyk toe gaan my plek – toe waai my plek net weg,” het Langenhoven gesê. “Toe ek weer kyk toe is daar niks nie.” 

Langenhoven het gesȇ dat hy intussen materiaal gaan bymekaar maak sodat hy weer ’n huis vir homself kan oprig in Morkel Cottage.

Volgens ’n gemeenskapsleier, Francis Williams (56), was Morkel Cottage Sondagoggend ’n prentjie van verwoesting.

Ebenette Meyer, ’n inwoner van Morkel Cottage in die Strand, probeer tydens die naweek se stormsterk winde haar besittings beskerm. FOTO: Ubaid Abrahams

“Dit was havoc, want hier is mense in Morkel Cottage wat sopas hier ingetrek het. Hulle hokke is nog vars, want hulle het nie eens genoeg materiaal gekry om hulle hokke reg te maak nie,” het Williams gesê.

Die Morkel Cottage-gemeenskap kry swaar en leef onder moeilike omstandighede, het Williams gesȇ. “Hierdie is die armste van die armes. Die mense se hokke is weg; hulle het nie eens ’n tweede sny brood om te eet nie. Hulle het nie eers komberse nie,” het sy gesê.

Diegene wat erge skade gely het, word tans in ’n nabygeleë kerk gehuisves, het Cerfontein aan SMF News gesê. 

Volgens Cerfontein sal die Stad Kaapstad help met die herbouing van strukture.

As gevolg van die verwoestende stormwind wat informele huise vernietig het, gaan hierdie kerk in Morkel Cottage as ’n tydelike huisvesting gebruik word vir hierdie haweloses. FOTO: Ubaid Abrahams

Kospakkies vir ‘armste van die armes’

Kospakkies is Sondag by Strand Sekondêr uitgedeel vir diegene wat hulp nodig gehad. Sowat 600 mense het in rye gewag vir kospakkies, het een van die organiseerders van hierdie kospakkie-inisiatief gesê. Die organiseerder het verkies om anoniem te bly.

Vrywilligers het in Strand Sekondêr se skoolsaal bymekaar gekom om die projek te koördineer, het Shakoor Vallie, bestuurder van die Robert Sobukwe Nursing Academy, in die Helderberg, gesê.

“Ons is nie veronderstel om in die saal te wees nie, want die skool verhuur nie die saal aan die publiek nie,” het Vallie gesê. Hulle het egter onderdak nodig gehad om tydens die storm te kon voortgaan met die hulpverleningsprojek. 

“Die mense was veronderstel om by die vaardigheidsopleidingsentrum bymekaar te kom, maar dit is te gevaarlik. Dele van die dak het reeds stukkend gewaai en ek kan nie die kans vat om mense buite te laat sit nie,” het Vallie Sondag gesê.

n Oomblik van gebed teen die verwoestende weer, voor die uitdeel van die kosmandjies in Strand Sekondȇr se skoolsaal. FOTO: Ubaid Abrahams

Die organiseerder het die nood in die gemeenskap beklemtoon.

“Dit maak ook ’n mens se hart bly, dat die mense wie die kospakkie gaan ontvang, wel dit nodig het,” het die weldoener gesê.

, , , ,