Inwoner van Cloetesville sak ineen, sterf op dak

’n 59-jarige man is oorlede nadat hy onlangs op die dak van ’n twee-verdieping huis in Jamestown ineengestort het. 

Die woordvoerder van die Stellenbosch Suid-Afrikaanse Polisie Diens (SAPD), Kaptein Natalie Martin, het bevestig dat die man dood is. “Geen vuilspel word vermoed nie,” het Martin gesê. 

Greggory Titus se liggaam is deur ’n brandreddingspan van die dak van ’n huis in Jamestown verwyder nadat hy ineengestort het. Dit is volgens Abigail Titus, dogter van die oorledene. FOTO: Ubaid Abrahams

Die voorval het op 9 April gebeur.

Die oorledene, Greggory Titus, was besig om dakteëls saam met die eienaar van die huis aan te lê, toe hy ineengestort het, het sy dogter, Abigail Titus, gesê.

Greggory is vermoedelik aan ’n hartaanval oorlede.

Volgens Abigail sou haar pa reeds die vorige dag (Maandag) die teëls gepak het, maar die slegte weer het hom verhoed.

Die paramedici het Greggory dood verklaar nadat die brandreddingspan sy liggaam van die dak verwyder het, het Abigail gesê.

Greggory Titus was besig om teëls aan te lê op die dak van ’n huis in Jamestown toe hy ineenstort het. Hy is daarna dood verklaar. Dit is volgens die oorledene se seun, Grant Titus. FOTO: Ubaid Abrahams

Grant, die oorledene se seun, het vertel dat sy pa “altyd sy trots in sy sak gedra” het, en nooit sy pyne en kwale met hom gedeel het nie. 

Grant het verduidelik dat sy pa ’n vryskut bouer was. “Hy moes lankal al ophou werk het, en so op lere en dakke klim. Maar hy was mos die broodwinner, hy wou altyd vir sy gesin voorsien,” het Grant gesê.

“Hy was ’n lieflike mens,” het Grant gesê. “Hy was die beste pa waarvoor ek kon gevra het.”

Titus het in Cloetesville gewoon, en word oorleef deur sy vrou, Letitia Titus, en hul drie kinders.

Titus se begrafnis sal plaasvind op Saterdag, 20 April, het Abigail gesê.

Volgens Grant Titus, die seun van die oorledene, is sy pa aan ’n hartaanval dood. FOTO: Ubaid Abrahams

, ,