‘Stemme’ klink steeds op ondanks derde vlaag

Die verhoogopvoerings van die dramaproduksies vir LitNet se Stemme-projek, is onlangs afgestel ná die plaaslike uitbreking van ’n derde vlaag van Covid-19-infeksies. Die produksies sal egter steeds aanlyn op die LitNet-webtuiste te siene wees.

Hierdie aanpassing, volgens Rafiek Mammon, kreatiewe raadgewer vir die Suidoosterfees, was om die verspreiding van die Covid-19-virus by dié geleentheid te vermy.

Die produksies is op 19 Junie in die Artscape-arena verfilm, volgens Mammon. Die opnames van die produksies sal vanaf 12 Julie op die LitNet-webtuiste vrygestel word, het hy gesê. 

Die opvoerings sou aanvanklik op 19 Junie in die Iziko-slawekwartiere in Kaapstad plaasgevind het, volgens Mammon. 

Rafiek Mammon, kreatiewe raadgewer vir die Suidoosterfees, meen dat mense uitgehonger is vir “’n bietjie live”-opvoerings.

Die dramaproduksies vir die Stemme-projek is op 19 Junie in die Artscape-arena verfilm, volgens Rafiek Mammon, kreatiewe raadgewer vir die Suidoosterfees. FOTO: Candice Jantjies

Voordat die opvoerings afgestel is, het Melt Myburgh, bestuurder van LitNet Akademies, in ’n e-pos aan MatieMedia verduidelik dat daar tans ook uitstallings in dié kwartiere aangebied word “om die stemme wat met ons tragiese slawegeskiedenis stilgemaak is, te laat opklink”.

Volgens Myburgh is dit gepas en ’n voorreg om blootstelling te gee aan kreatiewe stemme “in ’n ruimte wat daarop ingestel is om vrye uitdrukking te bevorder”.

Iziko-slawekwartiere

Kaapstad: Die Stemme-projek sou aanvanklik in die Iziko-slawekwartiere aangebied word, volgens Rafiek Mammon, kreatiewe raadgewer vir die Suidoosterfees. FOTO: Candice Jantjies

Stemme

’n Kombinasie van tien jong en veteraandramaturge, soos Breyten Breytenbach, is vir die projek gewerf om kort en “kragtige” monoloë van drie tot vyf minute te skryf, luidens die LitNet-webtuiste. 

Die Suidoosterfees bestuur die projek in samewerking met die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) en die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi), volgens die LitNet-webtuiste. 

Die idee om die produksies as monoloë aan te pak, was reeds voor die uitbreking van die derde vlaag, die logiese benadering om sosiale afstandmaatreëls te handhaaf, meen Myburgh, “want jy het net een persoon op die verhoog”.

Kunste te midde van pandemie

Met baie teaters wat hulle deure sedert die aanvang van die grendelstaat in Maart verlede jaar moes sluit, en feeste wat uit- of afgestel word, is die impak van die Covid-19-pandemie op die teater- en feestebedryf “enorm”, meen Myburgh.

“Baie mense is sonder geleenthede en ’n inkomste gelaat,” het hy gesê.

Die oogmerk met die Stemme-projek was juis om aan kunstenaars die geleentheid te bied om skeppend te werk tydens die pandemie, luidens die LitNet-webtuiste.

Vir Stephren Saayman, een van die jong dramaturge wat vir die projek gewerf is en onlangs aan die Universiteit Stellenbosch (US) se dramadepartement gegradueer het, beteken dit “ongelooflik baie” om ’n platform aangebied te word om stories te vertel. 

“Hoewel die jong mense van vandag die toekoms van môre is, is daar nie aldag geleenthede wat ons help om te groei en te leer nie,” het Saayman gesê. 

Saayman se produksie, Alles lê in die lengte van jou hare, is deur Liandé Valentyn vertolk en handel oor ’n vrou wat worstel met die impak wat haar gebrekkige verhouding met haar oorlede ma, op haar verhouding met haar eie dogter het, het hy verduidelik.

Stephren Saayman, skrywer van die produksie, Alles lê in die lengte van jou hare, bied ’n voorsmakie van dié monoloog. Saayman het self die regie vir die monoloog behartig, wat hom “in die wolke” gelaat het, want sodoende kon hy ook sy “baby met hart en siel nurture”, het hy gesê.

Stephren Saayman

Vir Stephren Saayman, skrywer en regisseur van die produksie, Alles lê in die lengte van jou hare, beteken dit “ongelooflik baie” om ’n platform aangebied te word waarop hy stories kan vertel. FOTO: Candice Jantjies

, , , , ,