Plaaslike agritegnologie-entrepreneurs wen groot by LaunchLab-kompetisie

’n Stellenbosse agritegnologie-besigheid het onlangs by die Universiteit Stellenbosch (US) LaunchLab se Agri & Data Startup Showcase met twee toekennings en prysgeld van R33 000 weggestap.

LaunchLab

Berno Greyling (links) en Jacobus Els is oud-Maties. Hulle het Revolute Systems in 2017 op die been gebring. FOTO: Anri Matthee

Revolute Systems is ná die finale rondte op 27 Mei aangewys as een van vier pryswenners van dié kompetisie en het ’n verdere “pluimpie” ontvang in die vorm van die Agritech Entrepreneurstoekenning van Alphawave, een van die kompetisie se hoofborge. Hierdie addisionele toekenning bied ook vir die pryswenner die geleentheid om mentorskap van Alphawave te ontvang. Dít is volgens Leana Kotze, ’n inkubasieleier en kompetisie-organiseerder by die LaunchLab.

Die erkenning is bemoedigend vir die oud-Maties, Berno Greyling en Jacobus Els, wat Revolute Systems in 2017 gestig het. 

“Dit was ’n baie groot eer om met die prys te kon wegstap,” het Els aan MatieMedia gesê oor “daai thumbs up”. Die besigheid het ook van die LaunchLab se ondersteuning gebruik gemaak om te groei tot waar dit vandag is, het Els gesê.

Beginbesighede vir Afrika

Die Agri & Data Startup Showcase word aangebied in samewerking met die US se fakulteit agriwetenskappe en Alphawave, ’n gespesialiseerde tegnologie-beleggingsgroep in Stellenbosch, volgens Kotze.

“Die doel van die showcases is om merkwaardige idees en beginbesighede van regoor Afrika die geleentheid te gee om te kom spog,” het Kotze gesê.

Uit byna 100 inskrywings, het tien finaliste hul besighede aan die beoordelaarspaneel voorgelê, het Kotze verduidelik. 

Die prysgeld is toe, volgens Kotze, tussen vier wenners verdeel, omdat die beoordelaars nie op slegs drie wenners – soos aanvanklik beplan is – kon besluit nie. Die pryswenners was, benewens Revolute Systems, ook Agrigistics (wat landboulogistiek en -data monitor), Lentera (wat fokus op tegnologietoepassing vir presisieboerdery), en Nile (’n aanlyn platform wat voedselprodusente met handelaars verbind).

LaunchLab

Vir Greyling (links) en Els het die Universiteit Stellenbosch LaunchLab ’n groot rol in Revolute Systems se ontwikkeling gespeel. “Ons het ’n spasie hier by die LaunchLab gehad, en maar van hier af begin werk en goeters aan die gang gekry,” het Greyling gesê. FOTO: Anri Matthee

Een van die beoordelaars op dié paneel was Suné Joubert, die hoof van strategiese posisionering by Etse Electronics, wat Alphawave se agritegnologie-portefeulje verteenwoordig. 

Vir Alphawave, wat al 23 jaar betrokke is by agritegnologie, is hul Agritech Entrepreneurstoekenning – wat vanjaar vir die eerste keer toegeken is – ’n belegging in beginbesighede wat “werklik iets om die lyf het”, het Joubert gesê. Alphawave het die deelnemer gekies wat “die meeste met [hul] etos ooreenstem” om die prys te ontvang, volgens Joubert.

“Revolute Systems se oplossing het die interseksie van innoverende tegnologietoepassing, entrepreneurspassie en markrelevansie getoon,” het sy gesê.

Die Revolute-storie

Greyling, met ’n agtergrond in megatroniese en bedryfsingenieurswese, verduidelik hoe hy en Els, met ’n graad in wingerd- en grondkunde, mekaar aanvul binne Revolute Systems. OPNAME: Anri Matthee

Volgens Els vervaardig Revolute Systems sensors wat vir vrugteboere data oor hul grond, plante en vrugte insamel. Hy verduidelik dat hulle nou “holistiese moniteringsmetodes” aanbied wat ’n verskeidenheid faktore kan meet.

“As hulle almal dieselfde storie begin vertel, dan kry ons insig,” het Els gesê.

Die “kersie op die koek”, en hooffokus van hul voorlegging, was vrugdragkartering (fruit load mapping) omdat daar wêreldwyd slegs ’n handvol maatskappye is wat hierdie tegnologie aanbied, volgens Els. Die vrugdragkarteringsdiens word tans deur Revolute Systems gelewer, maar die doel is om teen die komende somer eenhede te verkoop sodat boere hierdie ondersoeke self kan doen, het Els verduidelik.

LaunchLab

Vrugdragkartering (oftewel fruit load mapping) is die mees onlangse en die mees tegnologies-gevorderde toevoeging tot Revolute Systems se dienste, volgens Els. INFOGRAFIKA: Anri Matthee

“As hierdie produk kan uitrol teen ’n koste-effektiewe prys, kan Suid-Afrika letterlik op die voorpunt wees van vrugtemonitering,” het Els gesê.

, , , ,