Stellumthombo kweek leesvaardighede in omliggende gemeenskappe

Stellumthombo, Stellenbosch Moederkerk se nie-winsgewende organisasie, het Maandag hul geletterdheidsprogram by laerskole in die omliggende gemeenskappe afgeskop. 

Dié leesprogram is daarop gemik om die geletterdheidsontwikkeling van risikokinders in die gemeenskappe rondom Stellenbosch te bevorder.

“Ons fokus op kinders wat ’n agterstand in geletterdheid beleef,” sê Demi Erasmus, geletterdheidsprogramkoördineerder by Stellumthombo. “Ons hoop om ’n liefde vir lees in die kinders te kweek,” voeg sy by. Erasmus het die leesprogram opgestel en het aktiwiteite ingesluit wat daarop gerig is om ook die kinders se fisiese ontwikkeling te ondersteun. “Ons het fyn-motoriese aktiwiteite, ons het sensories-motoriese aktiwiteite en groot-motoriese aktiwiteite. Hulle doen ietsie van alles – hulle speel met klei, vorm letters, skryf in sand, gooi bal, spring en klouter,” vertel Erasmus.

Demi Erasmus, Stellumthombo geletterdheidsprogramkoördineerder

Demi Erasmus, geletterdheidsprogramkoördineerder by Stellumthombo
FOTO: Lienke Lombard

Die leesprogram word aangebied by Devonvallei-, Idasvallei- en Vlottenburg Primêre Skole, asook Aitsa!, ’n nasorgsentrum in Kylemore. Vrywilligers besoek weekliks die skole om die kinders volgens die program te onderrig. Meeste van dié vrywilligers is studente by die Universiteit van Stellenbosch (US). “Sonder [die vrywilligers] het ons nie ’n program wat hardloop nie,” sê Erasmus.

Stellumthombo geletterdheidsprogram aktiwiteite

Aktiwiteite word deur die vrywilligers aangebied
FOTO: Demi Erasmus

Nina Potgieter, derdejaarstudent aan die US en vrywilliger by die leesprogram, vertel dat elke vrywilliger dieselfde twee kinders onderrig vir die duur van die program. Sy meen dat dit struktuur in die kinders se lewens skep en dat daar sodoende verhoudings tussen hulle en die vrywilligers gebou kan word. “Dit laat jou ook toe om aandag te gee aan die individuele areas waarmee kinders sukkel, waar daar nie altyd in ’n groep tyd sou wees nie,” sê Potgieter.

Stellumthombo vrywilligers onderrig leerders

Vrywilligers onderrig leerders by Devonvallei Primêre skool
FOTO: Demi Erasmus

Die leesprogram word twee keer per week by elke skool aangebied, en elke kind ontvang weekliks vyf-en-veertig minute se onderrig. Die kinders word deur die jaar geassesseer om hul vordering dop te hou. Marian Casal, graad R-onderwyseres by Devonvallei Primêr, sê: “Dis ’n baie spesiale program, [die vrywilligers] vat regtig hande met ons.” Casal glo dat die leesprogram die leerders opgewonde maak om te lees en te leer.

Stellumthombo mik om met elke les die potensiaal en toekoms van kwesbare kinders in die gemeenskappe rondom Stellenbosch te ontsluit deur geletterdheids- en leesvaardighede te verbeter, en ’n liefde vir lees aan te spoor.

Enigiemand wat betrokke wil raak by dié program, of by Stellumthombo se ander projekte, kan Stellumthombo se webblad besoek by www.stellumthombo.org

 

,