Stellenbosse Universiteitskoor verower eerste plek in wêreldwye aanlyn kompetisie

Die Stellenbosch Universiteitskoor (USK) is op 9 Julie as die wenners van die Gemengde Kore-afdeling by die internasionale aanlyn kompetisie, die 2020 Llangollen Internasionale Musiek Eisteddfod, aangewys.

Die USK het dié afdeling gewen, gebaseer op hul 2018-optrede van Baba Yetu by die 2018 Llangollen Internasionale Musiek Eisteddfod in Wallis.

Die Stellenbosch Universiteitskoor het Baba Yetu by die 2018 Llangollen Internasionale Musiek Eisteddfod in Wallis gesing en het daardie jaar die Ope-, Jeug-  en Gemengde kore-afdelings gewen. Baba Yetu is ook die koor se vertoning wat al die meeste op YouTube gekyk is – met ’n kykertal van meer as 3.8 miljoen. VIDEO: YouTube/Stellenbosch University Choir.

“Die kompetisie bestaan basies uit optredes wat vanaf 2002 tot 2019 deel gevorm het van die Llangollen Eisteddfod,” het Corné Kruger, logistieke bestuurder van die USK, aan MatieMedia gesê. 

Volgens Kruger kon mense van regoor die wêreld vir hul gunsteling optredes oor die jare gestem het.

“Dit maak ons harte warm om te kan weet dat die USK wêreldwyd ondersteun word,” het sy gesê. “Die feit dat musiek wat hulle in 2018 gesing het steeds ’n impak het – veral tydens die grendelstaat – is wonderlik.”

Die Stellenbosch Universiteitskoor het oor die jare vele gesogte toekennings ontvang, onder meer die nommereen-posisie op die Interkultur-ranglys. INFOGRAFIKA: Carl Thomas.

Die Universiteitskoor van Stellenbosch het oor die jare vele gesogte toekennings ontvang, onder meer die nommer een-posisie op die Interkultur-ranglys. INFOGRAFIKA: Carl Thomas.

André van der Merwe, koorleier van die USK, het gesê dat dié wen besondere goeie nuus was om te ontvang tydens die grendelstaat.

“Kompetisies [soos dié] skep die geleentheid om vir internasionale gehore op te tree én jou eie kultuur met ’n breër gehoor te deel,” het hy gesê. “USK was selfs op BBC Wallis uitgesaai en dít het wonderlike blootstelling vir die koor geskep.”

André van der Merwe is ’n koordirigent van Durbanville en is die koorleier van die Stellenbosch Universiteitskoor vanaf 2003. Hy het al vele prestasies onder die belt en is onder andere in Julie 2018 as die Beste Koordirigent by die Llangollen Internasionale Musiek Eisteddfod in Wallis aangewys. FOTO: Verskaf/André van der Merwe

André van der Merwe is ’n koordirigent van Durbanville en is die koorleier van die Stellenbosch Universiteitskoor vanaf 2003. Hy het al vele prestasies onder die belt en is onder andere in Julie 2018 as die Beste Koordirigent by die Llangollen Internasionale Musiek Eisteddfod in Wallis aangewys. FOTO: Verskaf/André van der Merwe

Volgens Van der Merwe is dit vir hom ’n groot voorreg om met die room van die land se jeug te kan werk.

“Die koor is ’n spanproses. Ek leer nét so baie by die studente as wat hulle by my leer,” het hy gesê. 

Shaun Graeme Carolissen, ’n nagraadse onderwyssertifikaat-student aan die Universiteit Stellenbosch en derdejaar koorlid, het gesê dat die USK ’n tuiste is waar hy homself ten volle kan uitleef.

Die lede van die Stellenbosse Universiteitskoor (van links na regs): Rhiyaan Smith, Shaun Graeme Carolissen, Leah Primo (voor), Luthando Siboya (agter), Joshua Matthee en Abigail Koeries buite die Konservatorium na hul Etensuur-konsert by Woordfees 2020. FOTO: Verskaf/Shaun Graeme Carolissen.

Lede van die Stellenbosse Universiteitskoor (van links na regs): Rhiyaan Smith, Shaun Graeme Carolissen, Leah Primo (voor), Luthando Siboya (agter), Joshua Matthee en Abigail Koeries buite die Konservatorium na hul Etensuur-konsert by Woordfees 2020. FOTO: Verskaf/Shaun Graeme Carolissen.

“Die koor wys dat diversiteit kan werk,” het Carolissen gesê. “Elke lid is só verskillend, tog moet ons almal saamkom om as een stem ons werk te doen.”

, , ,