Stellenbosse netbalsterre haal provinsiale span

ʼn Groep van sewe Stellenbosse netbalspelers is vir die 2021 Wes-Kaapse Southern Stings-netbalspan (Stings) gekies. Die span is op 21 Maart, na afloop van die finale provinsiale netbalproewe, aangekondig.

Dit is volgens Anke Uys, een van die spelers wat vir dié span gekies is. Sy sal saam met Sian Moore, Nicholé Taljaard, Cayleigh Stuart, Alison Malgas, Nicola Smith en Nerine Koopman in die bekende wit-en-blou deelneem. Malgas en Uys speel plaaslik vir die Van der Stel-netbalklub, terwyl die res van die groep vir die Maties-netbalklub meeding.

Die Stings-span het volgens Moore op 12 April vanjaar begin oefen ter voorbereiding vir die Telkom-netballiga (TNL). Die TNL sal in September vanjaar in ʼn sogenaamde bio-borrel plaasvind, waar streng gesondheidsprotokolle toegepas sal word en geen toeskouers by wedstryde toegelaat sal word nie, het Moore gesê.

Die Wes-Kaapse Southern Stings-span oefen op 14 April vanjaar by die Boy Louw-sportgronde in die Paarl. FOTO: Alexander Brand

As deel van hulle voorbereiding, beplan die Stings om voorlopig twee keer per week te oefen, het Uys gesê. Die span sal ook op 18 April teen die Wes-Kaapse Tornados-netbalspan deelneem aan ʼn vertoningswedstryd, as deel van die StellenSport-netballiga (SNL), het sy bygevoeg.

Die span is verlede jaar, weens Covid-19-regulasies, nie toegelaat om so gereeld saam te oefen as wat hulle wou nie. Dit het spanbou baie uitdagend gemaak, het Malgas gesê. 

Hierdie jaar lyk volgens Malgas egter “baie meer belowend” in terme van die gebeure wat op die netbalkalender geskeduleer is.

“Hierdie seisoen het ʼn interdistrik-toernooi aan die einde van April, met verskeie ander toernooie en wedstryde, soos die SNL, wat ʼn nuwe onderneming vir netbal as ʼn professionele sport is,” het Malgas gesê.

Die Maties-netbalklub se netbalbane -en klubhuis. FOTO: Alexander Brand

Die spelers wat vir die Stings-span gekies is, sal volgens Moore steeds vir hul onderskeie klubs in Stellenbosch meeding.

“Ons móét vir ons klubs speel as ons [vir die Stings] wil speel. Ons moet dus geaffilieer [met] óf geregistreer wees by ʼn klub, en dan oefen ons op afwisselende dae,” het Moore gesê.

Die Coetzenburg-binnenshuisesentrum, waar die Maties-netbalklub se topspanne oefen. FOTO: Alexander Brand

Die Stings-kamp voel dat hulle oorgenoeg tyd het om ordentlik voor te berei voordat die TNL-toernooi afskop. Dit is volgens Annelie Lucas, hoofafrigter van dié span. 

Lucas het gesê sy is baie opgewonde, want die keuring van hierdie spelers dui aan dat die Stings ʼn poging aanwend om hul spelers te ondersteun en dat hulle hoë-prestasieprogram waarvolgens die spelers oefen, werk.

Die Van der Stel-netbalklub waarvoor Alison Malgas en Anke Uys meeding, se oefenbane. FOTO: Alexander Brand

, , , , ,