Bal bly aan die rol vir 2021 netballiga

Die Covid-19-pandemie het vanjaar ’n stokkie voor talle sportgeleenthede gesteek. ’n Plaaslike netbalklub is egter volstoom aan die beplan om stééds teen volgende jaar die land se eerste professionele netballiga aan te bied.

StellenSport, wat in die ontwikkeling van Suid-Afrikaanse netbal spesialiseer, sal in 2021 die StellenSport Premier-netballiga (SPNL) huisves. Dié liga sal oor ’n tydperk van 14 weke op Stellenbosch gespeel word. Spanne van reg oor die land – insluitend tien Wes-Kaapse spanne – sal met mekaar meeding.

Volgens Freda Kemp sal die StellenSport-handelsmerk tydens die beplanning van dié netballiga gebruik word om toeskouers te lok. FOTO: Verskaf/Freda Kemp

Volgens Freda Kemp sal die StellenSport-handelsmerk tydens die beplanning van dié netballiga gebruik word om toeskouers te lok. FOTO: Verskaf/Freda Kemp

“Die [Wes-Kaapse] spelers sal al ses distrikte in die Wes-Kaap – Overberg, Weskus, Sentraal-Karoo, Kaapse Wynlande, Kaapstad en Eden – verteenwoordig,” het Freda Kemp, uitvoerende direkteur van StellenSport, aan MatieMedia gesê.

Indien die Covid-19-regulasies dit toelaat, sal die Wes-Kaapse spanne in November vanjaar tydens ’n netbalfees op ’n ranglys geplaas word, het Kemp gesê. 

 

Meer as een doel voor oë

Volgens Kemp is dié liga sterk aangemoedig deur StellenSport, omdat plaaslike ligaspanne gewoonlik net drie- tot vyf wedstryde per jaar speel. Sy meen dat dit nie die spanne genoeg kans gee om te oefen nie. 

“Die spelers moet meer wedstryde speel om te oefen en te verbeter,” het Kemp gesê.

StellenSport het onlangs die netbaluitrustings bekendgestel wat deur die onderskeie spanne tydens die StellenSport Premier-netballiga gedra sal word. FOTO: Instagram/@stellensport_premier_league

StellenSport het onlangs die netbaluitrustings bekendgestel wat deur die onderskeie spanne tydens die StellenSport Premier-netballiga gedra sal word. FOTO: Instagram/@stellensport_premier_league

Volgens haar beoog StellenSport ook om deur middel van dié liga nuwe talent te ontdek en verder te ontwikkel. 

“Dit was altyd my droom om professioneel netbal te speel, maar ek het nooit die geleentheid gehad nie. Nóú is dit my beurt om daardie geleentheid vir jong netbalspelers te skep. Dít is hoekom Covid-19 nie gaan verhoed dat dié liga plaasvind nie,” het Kemp gesê. 

Freda Kemp gesels oor haar visie vir dié professionele netballiga. Sy is ook opgewonde om nuwe netbaltalent te ontdek en ontwikkel. INSTAGRAM-PLASING: @stellensport_premier_league

Volgens Jo Prins, StellenSport ambassadeur, is dit tyd dat netbal die blootstelling én erkenning kry wat dit verdien – ten spyte van die Covid-19-pandemie. 

“Dié netballiga sal aan Suid-Afrikaanse netbalspelers geleenthede gee, sodat hulle nie na die buiteland hoef te verhuis om hulle netbaldrome ’n realiteit te maak nie,” het Keesha van Schalkwyk, ’n speler wat aan die liga gaan deelneem, gesê.

Volgens Van Schalkwyk sal dié liga haar kanse om ’n loopbaan as ’n professionele netbalspeler te volg, bevorder.

“Ek is gemotiveerd en opgewonde dat daar nou ’n geleentheid vir my is om ’n loopbaan uit netbal te maak. Dit is grootliks te danke aan StellenSport wat dit stadig maar seker moontlik maak vir  netbal om meer erkenning in Suid-Afrika te ontvang,” het Van Schalkwyk gesê.

, ,