Stellenbosse golfers palm putjies in by PGA-toernooi

gholf

Cameron Esau, lid van die Stellenbosch Gholfklub wat vanjaar as die derde wenner van die Professional Golfers Association (PGA) se Associate Championship-toernooi aangewys is,beskryf gholf as ’n lewenslange “journey”. “Ek is 35 en gaan nou nog aan met gholf. Ek het begin speel toe ek 15 jaar oud was,” het Esau gesê. FOTO: Jean-Marie Uys

Twee Stellenbosse gholferspelers het onlangs by die jaarlikse Professional Golfers Association (PGA) se Associate Championship-toernooi presteer. Die toernooi, wat op Maandag 23 Mei oor 36 gate beslis is, se uitslae word as mans en vroue tesame gegee.

Cameron Esau het ’n derde plek en Bianca Wernich ’n neëntiende plek behaal uit ’n totaal van 66 spelers. Wernich het met slegs een hou te veel tweede geëindig in die vroue-afdeling. Francesca Cuturi van die Neil Cheetham Golf Academy het eerste geëindig in die vroue-afdeling en ’n algehele agtiende plek behaal. Die algehele wenner van die toernooi is Adam Bassingthwaighte van die Omeya Golf Club in Namibië.

“Wat dit vir my meer besonders gemaak het, [is dat] Bianca uit [66] mense neëntiende gekom het. Dit is so ’n spesiale prestasie – dit is een van die min sporte [waarin] mans en vroue [saam] kompeteer,” het Louis Destroo, direkteur van Stellenbosch Gholfklub en voorsitter van die PGA in Suid-Afrika gesê.

Die toernooi is hierdie jaar by Kyalami Country Club in Midrand aangebied en het vereis dat spelers die 36 gaatjies in een dag voltooi, volgens Wernich.

“Ons speel nie sommer 36 [gaatjies] nie. Jy kan in die eindtellings sien [dat] dit ’n klomp mense [is] wat studeer en werk. Dit was maar tough,” het Wernich gesê. 

Sy het verduidelik dat die toernooi verbonde is aan die PGA-vakleerlingskapprogram en dié toernooi ’n week van verpligte jaarlikse lesings afgeskop het. 

Cameron Esau (links) het ’n algehele derde plek behaal en Bianca Wernich (regs) het tweede in die vroue-afdeling en ’n algehele neëntiende plek verower tydens vanjaar se Professional Golfers Association (PGA) Associate Championship-toernooi by Kyalami Country Club. “Dit is ’n baie groot achievement om jou naam hier op die eerste bladsytjie te hê,” het Louis Destroo (middel), direkteur van Stellenbosch Gholfklub en voorsitter van die PGA in Suid-Afrika gesê. FOTO en GRAFIKA: Verskaf/Destroo.

Pad van ’n PGA-vakleerlingskap 

Deelname aan die toernooi was beperk tot PGA-vakleerders wat ingeskryf is vir die drie jaar PGA-vakleerlingskapprogram, volgens Destroo. 

Die program vereis dat spelers voltyds in die gholfbedryf onder die mentorskap van ’n professionele PGA-mentor werk, ’n voorgee (handicap) van minstens vier vir manne en sewe vir vroue het, en gematrikuleer het. Dit is volgens die PGA in Suid-Afrika se webtuiste

“Bianca en Cameron werk voltyds vir Stellenbosch Gholfklub. Hulle doen die akademiese komponent [sowel as] hulle ure. Dit is die vinnigste, maar ook die moeilikste manier om dit te doen,” het Destroo gesê. “Hulle sal altwee aan die einde van hierdie jaar kwalifiseer.”

Na die voltooiing van die kursus geniet graduandi volwaardige PGA-lidmaatskap en toegang tot loopbane in die gholfbedryf, volgens die PGA se webtuiste. 

 “Gholf is ’n baie mental en endurancegame. As jy nie gewoond is om so baie te speel en te loop nie, is dit baie maklik om fokus te verloor,” het Bianca Wernich, Professional Golfers Association (PGA)-vakleerling by Stellenbosch Gholfklub gesê. VIDEO: Jean-Marie Uys

Uitslae ten spyte van uitdagings

Beide Esau en Wernich is tevrede met hul prestasies in die toernooi, veral in ag genome die min tyd tot hulle beskikking om te oefen.  

“Ek is happy met ’n derde plek. Ons moet studeer, werk en ons [rig af] en so aan. Daar is nie baie tyd vir gholf speel nie, maar mens moet nog altyd mens se game skerp hou,” het Esau gesê. 

Wernich het “’n hele paar ouens pak gegee” en die eerste plek in die vroue-afdeling prysgegee “met een hou”. Sy het verduidelik dat dit nie die norm is vir manne en vroue om saam te kompeteer nie, maar dat sy dit eintlik so verkies. 

“Dit wil gedoen wees, en ek dink as ’n vrou moet mens baie trots wees daarop,” het Destroo gesê. 

Lees ook: Jamestown golfer takes a swing at national golf tour

,