Stellenbosch-studente skitter by Suidoosterfees

Die Suidoosterfees is ’n wonderlike platform vir studente om van hul werke ten toon te stel, blootstelling te kry in professionele teater en hul vaardighede te verbeter. Dit is volgens Susanne Beyers, aktrise en mentor by Universiteit Stellenbosch (US) se drama departement. 

Verskeie huidige en oud-studente van US het verlede naweek by die Suidoosterfees in Kaapstad opgetree, volgens Miandra Hayward, ’n honneurs-dramastudent aan US, en ook ’n Suidoosterfees-bemarkingsintern.

Daar was vanjaar oor die algemeen meer studente in dramas en toneelstukke, het Lorraine Peters, die Suidoosterfees se geleentheidskoördineerder, verduidelik.

“Dit is so mooi, ek dink ek gaan huil,” het Maja Smith, student by Universiteit Stellenbosch (US) gesê oor haar suster, Carla Smith, se vertoning Clara wat onlangs by die Suidoosterfees op die planke was. Carla het in 2019 haar honneursgraad in drama aan US voltooi. Hier is die stel van dié vertoning. FOTO: Stefani Terblanche

US dramaproduksies

Een van die produksies by die fees kom uit die pen van Gita Fourie, ’n alumna van US. Afval is gebaseer op Fourie se ervaringe van haar “crazy familie” tydens die grendeltydperk in Covid-19, het sy verduidelik. 

Die toneelstuk is oorspronklik geskryf vir die Première-fees wat jaarliks deur die US se dramadepartement aangebied word. Dit is daarna ook by die Woordfees en Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) opgevoer, het Minke Marais, aktrise in Afval en honneurs-dramastudent aan US, vertel.

“Dit is regtig ongelooflik. Ons sou dit nie kon doen sonder die ondersteuning van die [dramadepartement] nie,” het Fourie gesê. 

“Die Suidoosterfees is besig om baie goed te doen om opkomende kunstenaars te ondersteun […] soos Jong [Sterre] en Tienertoneel, waar die beste drie stukke ook by die Suidoosterfees kan optree.” Dit is volgens Mikyall Harris, ’n akteur in Jantjies and the Pearls en honneurs-dramastudent aan SU.

“Die [Suidoosterfees] het vir ons soos 100% van ons kaartjieverkope aangebied […] vir kunstenaars is dit nogals abnormaal,” het Gita Fourie, die skrywer van Afval en alumna van Universiteit Stellenbosch, vertel. Hier erken die akteurs die applous van die gehoor. FOTO: Stefani Terblanche

Hoe die fees kan verbeter

“Ons almal weet as jy by ’n fees is, is die venues nie altyd super geskik nie. Ek self het byvoorbeeld in ’n komedie opgetree, Klinkklaar, wat in die groot tent was […] Dit was vir ons fine, want ons het met [mikrofone] gewerk, maar nie almal [in ander produksies het dit] gehad nie […] Maar mens aanvaar dit, dit is die fees,” het Beyers vertel. 

Daar is ook verskeie nuwe venues wat sy ontdek het wat wel wonderlik was, het sy gesê. 

Verskeie tegnieke is gebruik om die fees te bemark, onder meer radio- en televisie-advertensies, het Hayward vertel. Akteurs wat ’n groot aanhang op sosiale media geniet, is ook gevra om hul eie produksies daar te bemark, het sy gesê. Tog kan daar in die toekoms op kampusse veldtogte wees om te bemark dat dit ’n “goedkoper fees” is sodat meer studente dit kan bywoon, het sy gesê. 

Studente kon drie kaartjies teen R150 bekom om vertonings by die onlangse Suidoosterfees by te woon. Dit is volgens Mikyall Harris, ’n akteur in die Jantjies and the Pearls en ’n honneurs-dramastudent aan Universiteit Stellenbosch. FOTO: Stefani Terblanche

, ,