Teaterfees bekroon gekkige wenproduksie

’n Toneelstuk oor die Stellenbosse liefde is onlangs aangewys as die wenproduksie van die Première Teaterfees.

Dié fees is deur die Universiteit Stellenbosch (US) se dramadepartement aangebied. 

Die Première Teaterfees is ’n viering van die jong, energieke teatertalent van Stellenbosch, meen die feesorganiseerders, dr. André Gerber en Elana-Marié Snyman. FOTO: Karla de Bod

Die produksie ’n Gek oor jou, is tydens die prysuitdeling op 23 Julie as die wenproduksie aangewys. Lede van die produksie stap weg met R20 000 asook ’n speelvak by vanjaar se Woordfees. Dit is volgens dr. André Gerber, een van die feesorganiseerders.

Teaterfees eie aan Stellenbosch

Meer as 60 studente was vanjaar by Première betrokke. Dié studente het onderskeidelik as regisseurs, skrywers, ontwerpers, verhoogbestuurders en akteurs opgetree, het Gerber verduidelik.

Die Première Teaterfees het uit 12 produksies bestaan waaruit vier finaliste gekies is. Dié finaliste was Afval, Bopha!, ’n Gek oor jou en Jantjies and the pearls. FOTO: Karla de Bod

“Première is ʼn opwindende teaterfees eie aan Stellenbosch waar daar oorspronklike produksies deur jong, vernuwende teatermakers van die Universiteit Stellenbosch se dramadepartement ontwikkel en opgevoer word,” het Gerber verduidelik.

Volgens Gerber en Elana-Marié Snyman, die ander feesorganiseerder, was al die betrokkenes gereed om gehore weer in die teater te verwelkom.

Kreatiwiteit tussen vriendinne

’n Gek oor jou het slegs twee karakters, Yanni en Laurel, gehad. Albei karakters is opsoek na liefde, maar in hulle pogings om dit te vind, ontstaan daar konflik tussen die twee vriendinne. 

’n Gek oor jou is as vanjaar se Première Teaterfees-wenproduksie aangekondig. Christie van Niekerk, wat die karakter Laurel in die wenproduksie gespeel het, het gesê dit beteken vir hulle “die wêreld” om dié toekenning te ontvang. FOTO: Karla de Bod

Christie van Niekerk en Ané Koegelenberg, wat onderskeidelik die rolle van Laurel en Yanni gespeel het, het genoem dat hulle op “cloud nine” was nadat hulle produksie as die wenner aangekondig is. “Dit beteken vir ons die wêreld om die prys te wen as twee vriendinne en om kreatief saam te kan wees as vriende beteken regtig baie,” het Van Niekerk gesê.

Volgens Koegelenberg was dit ’n groot voorreg om saam met haar vriendin deel te kon wees van die feesprogram. “Dis ’n voorreg, want dis nie met almal met wie mens produktief kreatief kan wees nie,” het sy gesê.

Vars idees en talent

Saartjie Botha, die Woordfees se feesdirekteur, was een van Première se beoordelaars. Volgens Botha het die paneel gekyk na “nuwe benaderings, vars idees, kreatiewe vonke” en talent.

“’n Platform soos Première is ’n platform waar mens regtig eksperimentele werk kan doen en waar mense gevaarlik kan raak,” het Saartjie Botha, Toyota US Woordfees se feesdirekteur, gesê. FOTO: Karla de Bod

“Dis belangrik dat nuwe kunstenaars platforms kry om werk te wys, buite die instansies waar hulle is. Daarom is dit vir ons belangrik om ook die wenner van die Première op die hoofprogram van die Woordfees in te sluit,” het Botha gesê. 

Volgens Botha is hulle opgewonde om die wenproduksie by vanjaar se Woordfees in te sluit. “Dit bring nuwe stemme en nuwe gesigte na ons gehore toe en ons is altyd opgewonde oor nuwe talent.”

, , , , , , , , , ,