Stadsraad gee groenlig vir implementering van energieplan

Stellenbosch Munisipaliteit se energieplan is onlangs deur die stadsraad goedgekeur. Die raad beoog om deur middel van dié plan op munisipale vlak verligting te bring gedurende beurtkrag. Dit is volgens Gesie van Deventer, uitvoerende burgemeester van Stellenbosch. 

Die raadslede het die plan amptelik goedgekeur nadat die stadsraad dit tydens ‘n aanlyn-stadsraadsvergadering goedgekeur het. Die vergadering is op 29 Maart via Microsoft Teams gehou.

Volgens ’n persverklaring deur Stellenbosch Munisipaliteit beplan hulle om beurtkrag die hoof te bied deur alternatiewe kragbronne, soos sonpanele en UPS-stelsels, te benut. FOTO: Sebastian Paulus

Volgens ’n persverklaring deur Stellenbosch Munisipaliteit het die munisipaliteit in 2018 begin kyk na maniere om die impak van beurtkrag op inwoners te verlig. In Januarie 2021 het die stadsraad die groen lig gegee vir ’n wetenskaplike ondersoek en uitvoerbaarheidstudie om moontlike alternatiewe elektrisiteitsbronne te ondersoek, het Van Deventer gesê.

Nuwe inisiatiewe

“Met beurtkrag wat oor die land spoel weens die energiekrisis in Suid-Afrika, het dit noodsaaklik geword vir munisipaliteite om alternatiewe energiebronne te begin ondersoek,” het Van Deventer gesê. Hulle wil inwoners en besighede sover moontlik beskerm, het sy bygevoeg.

Energiekenners is, volgens Van Deventer, baie belangrik vir die sukses van die energieplan. “Stellenbosch Munisipaliteit werk nou saam met die Sentrum vir Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsing (CSIR), Stellenbosch Universiteit (SU) en die Wes-Kaapse regering deur hul munisipale energie-veerkragtigheidsinisiatief (MER), om moontlik beurtkrag in ons munisipale gebied te verminder,” het Van Deventer gesê. 

Volgens Gesie van Deventer, uitvoerende burgemeester van Stellenbosch het die munisipaliteit onlangs die installering van sonpanele op alle groot munisipale geboue voltooi. FOTO:Sebastian Paulus

SU sal as deel van die plan ’n elektrisiteitsopbergingstudie voltooi, het Van Deventer gesê. Die universiteit gaan ook ’n projek saam met die Wes-Kaapse regering implementeer om sonkraginstallasies by 20 plaaslike skole te ontplooi. 

Die munisipaliteit het self ook in April 2022 begin om sonpanele op verskeie munisipale eiendomme aan te skakel, het Van Deventer gesê. “Ons het nou die installering van sonpanele op alle groot munisipale geboue voltooi en verkeersligte wat deur die munisipaliteit in ons munisipale area besit word, is toegerus met UPS-stelsels om te verseker dat dit vir twee tot drie ure aanbly wanneer beurtkrag tref,” het sy bygevoeg.

Die munisipaliteit moedig verbruikers aan om sonpanele te installeer, het Stuart Grobbelaar, kommunikasiebestuurder van Stellenbosch Munisipaliteit, aan MatieMedia gesê. Tot op hede is 3.4MW se private sonkrag-installasies deur die publiek registreer en geïnstalleer, het Grobbelaar gesê. 

Die munisipaliteit se langtermynplan sluit in om eksterne entiteite uit te nooi om elektrisiteit deur sonkragplase en batterybanke van binne die munisipale grense op te wek, het Grobbelaar gesê.

Gemeenskapsondersteuning

Volgens Roderick Wentzel, ’n gemeenskapsleier van Idasvallei, verwelkom die inwoners van die gemeenskap die inisiatiewe wat Stellenbosch Munispaliteit in plek gestel het.
“Ons almal het nie sonpanele by ons huise nie en meeste van ons kan dit nie bekostig nie,” het Wentzel aan MatieMedia gesê. “Ons vertrou dat die munisipaliteit nie net op die sentrale area van Stellenbosch sal fokus nie, maar ook op die gemeenskappe wat die meeste daaronder lei.”

“Ons almal het nie sonpanele by ons huise nie en baie keer kan ons nie eers kos maak tydens beurtkrag nie,” het Roderick Wentzel, ’n gemeenskapsleier in Idasvallei, aan MatieMedia gesê. FOTO: Sebastian Paulus

, ,