Atleet van Idasvallei Primêr hardloop goud los by SA’s

’n Atleet van ’n plaaslike laerskool het onlangs ’n goue medalje by die Suid-Afrikaanse Skoleatletiek (SASA) Laerskool Nasionale Kampioenskappe verower. Dit is volgens Anton Gordon, skoolhoof van Idasvallei Primêr.

Liam Poole het goud behaal in die 100m vir seuns o.12. Die kampioenskappe is in Maart in Pietermaritzburg gehou. “Dit was ongelooflik. Al ons personeel, kinders, ouers en gemeenskap het hoendervleis gekry en selfs trane in ons oë gehad toe ons sy wedlope gekyk het,” het, Gordon gesê.

Liam Poole spog met een van sy goue medaljes wat hy tydens die atletiekseisoen verower het. FOTO: Verskaf/Idasvallei Primêr

Die pad na goud

“Liam is die afgelope 6 jaar al deel van ons skool se atletiekspan en daar wag ’n blink toekoms vir hom. Sy kop en hart is op die regte plek. Hy is baie nederig,” het Gordon bevestig.

Poole het 4 Maart aan die Boland Laerskool Atletiek Kampioenskappe deelgeneem, waar hy ’n goue medalje in die 100m naellope vir o.12-seuns verower het. By hierdie byeenkoms het Poole ‘n nuwe Boland-rekordtyd gestel van 12.40 sekondes. Dit is volgens resultate op Boland Atletiek se amptelike webtuiste.

Poole het tydens die SASA Laerskool Kampioenskappe sy persoonlike rekordtyd van 12.40 sekondes verbeter na 12.39 sekondes. Dit is volgens Ashulita Hartogh, sportkoördineerder by Idasvallei Primêr.

“Ek werk al 5 jaar saam met Liam en hy is ’n besonderse atleet,” het Ashulita Hartogh, sportkoördineerder by Idasvallei Primêr, aan MatieMedia vertel. “Dit het tyd geneem maar Liam was nie haastig nie. Hy het hard gewerk. Ek sê altyd vir die kinders dat dit gaan oor wat jy insit, want dit is wat jy sal uit kry,” het sy gesê.

“Liam het ’n wonderlike atletiekseisoen gehad,” het Ashulita Hartogh, sportkoördineerder by Idasvallei Primêr, gesê, oor dié topatleet van die plaaslike skool. INLIGTING: Verskaf/Idasvallei Primêr INFOGRAFIKA: Kara van der Merwe

Die gemeenskap se trots

Volgens Hartogh vertrou sy dat Poole in ’n goeie hoërskool sal inkom wat hom kan ondersteun in sy drome. “Ek is verskriklik trots op hom. Liam verdien die beste,” het sy gesê.

“My hoop vir Liam is dat hy die dissipline sal hê om aan te hou werk aan sy talent,” het Revona Poole, Liam se ma, aan MatieMedia vertel.

“Trots en voorwaar geel en koningsblou. Aan jou bly ons getrou,” Anton Gordan, skoolhoof van Idasvallei Primêr het dié woorde uit die skool se skoollied aangehaal toe hy met die skool se nasionale atletiekkampioen, Liam Poole, gespog het. FOTO: Kara van der Merwe

, ,