Speel-speel by Stellenbosch se speelgoedmuseum

Het jy geweet Stellenbosch het sy eie speelgoed- en miniatuurmuseum? 

Die museum is in 1994 deur die vorige direkteur van die Stellenbosch Museum, Marius le Roux, ingerig. Dit is volgens Deborah Gabriels, die huidige museumbestuurder.

Marius Le Roux het ’n groot belangstelling in miniature gehad en selfs sy eie miniatuurhuisies gebou, het Deborah Gabriels, die huidige museumbestuurder, gesê. FOTO: Marise Schoonraad 

“Destyds het die museum heelwat speelgoed as skenkings ontvang, maar nie eintlik plek gehad om dit uit te stal nie. Die idee het by hom ontstaan om ’n speelgoed- en miniatuur[museum] op te rig,” het Gabriels gesê.

Die Stellenbosch Munisipaliteit het die Rynse pastorie aan die Stellenbosch Museum beskikbaar gestel, waar die Speelgoed- en Miniatuurmuseum toe in 1994 begin is, volgens Gabriels.

Die Speelgoed- en Miniatuurmuseum is al sedert 1994 in bedryf, het Deborah Gabriels, die huidige museumbestuurder gesê. FOTO: Marise Schoonraad 

Die Speelgoed- en Miniatuurmuseum is een van die vier kleiner museums wat onder die Stellenbosch Museum val, het Gabriels gesê. 

Die Stellenbosch Museum as ’n geheel lewer ’n groot bydrae tot toerisme op Stellenbosch en ontvang jaarliks meer as 40 000 besoekers, volgens Gabriels.

Só ry die trein

Die museum bevat ’n miniatuur-replika van ’n stoomtreinroete. SMF News het die museum gaan besoek.

Die replika beeld die stoomtrein se roete van Stellenbosch-treinstasie tot by die Lord Milner-hotel in Matjiesfontein uit, het Lyle Daniels, ’n toergids by die museum, gesê.

Die treinroete is spesifiek vir die museum gebou, het hy gesê.

Die treinstel is een van die elemente wat die meeste besoekers lok, het Shaaista Cariem, wat by die museum werk, gesê.

Die miniatuurtrein ry op die replika van ’n spoorlyn vanaf Stellenbosch tot Matjiesfontein.SMF News het die museum gaan besoek. VIDEO: Marise Schoonraad 

Ditjies en Datjies

Die speelgoedmuseum stal modelkarretjies, poppe en miniatuurhuisies uit, het Daniels gesê. Die versameling karretjies is deur die akteur Limpie Basson aan die museum geskenk, sê sy.

Die miniatuurkarretjie-versameling is deur die akteur Limpie Basson aan die museum geskenk het Lyle Daniels, ’n toergids by die museum, gesê. FOTO: Marise Schoonraad

Interessanthede in die museum sluit in ’n 120-jaar oue porseleinpop genaamd Gretchen en “die wêreld se kleinste kombuis”, volgens Daniels.

Dié porseleinpop, Gretchen, is volgens Lyle Daniels, ’n toergids by die museum, 120 jaar oud. FOTO: Marise Schoonraad 

“Die kombuis is só klein, hy kan in ’n vuurhoutjieboksie pas,” het Daniels gesê.

“Die wêreld se kleinste kombuis,” volgens Lyle Daniels, ’n toergids by die museum. FOTO: Marise Schoonraad 

Pret en plesier 

Die museum bied ook spesiale programme aan wat spesifiek op kinders gemik is, het Daniels gesê.

“’n Jaarlikse instelling by die speelgoedmuseum is die paaseierskattejag wat rondom Paasfees aangebied word. Die museum bied ook vakansieprogramme tydens die skoolvakansies by die speelgoedmuseum aan,” het Gabriels gesê.

Veral internasionale besoekers geniet die museum, omdat hulle dinge sien wat hulle nog nooit vantevore gesien het nie, het Cariem gesê.

Mense is meestal “in verwondering oor die goed”, het Cariem gesê.

, ,