Maties-roeiklub se A-vrouespan het vir die eerste keer ooit ’n tweede plek by die Universiteitsport Suid-Afrika (USSA)-bootwedren in Port Alfred in die Oos-Kaap behaal.

Maties-roeiklub se A-vrouespan maak geskiedenis by vanjaar se Universiteitsport Suid-Afrika (USSA) bootwedren deur vir die eerste keer ooit silwer te behaal. FOTO: Verskaf/Ellen Jones
Die A-vrouespan is die eerste span van dié klub om in ’n A-finaal te kompeteer sedert die begin van die kompetisie in die laat 1970s.
Alhoewel die vrouespan teen die titelhouers, die Universiteit Pretoria (UP), in die finaal moes veg, was dit vir hulle ’n naelbyter waarin die UP hulle in die semi-finaal met 49 sekondes oor die wenstreep gewen het. Die finale bronsmedalje is deur die Universiteit van Witwatersrand (Wits) gevat.
Die roeiklub se vrouespan het in 2025 vir die eerste keer in agt jaar ’n B-span na die jaarlikse bootwedren-kompetisie geneem en het in dieselfde jaar silwer verower.
“Dis net die begin van vroue-roei by Maties,” het Ellen Jones, afrigter van die vrouespanne gesê.
Jones meen dat die span vroeër vanjaar as “underdogs” bestempel was en het by vanjaar se boodwedren vir hulself naam gemaak deur op die podium te wees. Sy meen dat hierdie kompetisie ’n groot eer vir haar is, want dit is jaarliks een van die belangrikste byeenkomste om hul harde werk ten toon te stel.
Maties mans-en vrouespanne het teen nege ander universiteite meegeding, waar beide die A-en-B mansspan derde plek behaal het.

Die A-vrouespan van die Universiteit Stellenbosch (US) het in dié jaarlikse bootwedren in die A-finaal teen Universiteit van Pretoria (UP) ’n tweede plek behaal. FOTO: Verskaf/Ellen Jones
Jones en Tamlin Klement is die vrouespanne se twee nuwe afrigters. Jones was self kaptein van die vrouespan.
“Ons twee nuwe afrigters was die primêre [rede] vir die sukses. Hulle het ’n nuwe kondisioneringsprogram begin — iets wat ons nooit van tevore gehad het nie,” het Lailah-anne Bald, roeier van die A-span gesê. Sy meen dat die UP een van hul grootste opponente was in die aanloop van die kompetisie.
“Op pad na die finaal was ons [doelwit] eenvoudig: om [ons alles te gee],” het sy bygevoeg.

Maties-roeiklub se A-vrouespan tydens hul RMB bootwedren-kompetisie in Port Alfred. FOTO: Verskaf/ Ellen Jones
“Dit was Maties se suksesvolste seisoen [ooit],” het Lynne Swingler, voorsitter van dié klub gesê.
Volgens Swingler is hierdie prestasie net die begin vir die klub. Sy meen dat hierdie resultate “olie op die vlamme” gegooi het vir wat die klub volgende jaar sal behaal.
“Ons sal bou op die seisoen en binne die volgende paar jaar sal ons hopelik [goud huis toe bring],” het sy bygevoeg.
