Die Vereniging vir Afrikaansstudente (VE[r]AS), wat ook verbonde is aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Afrikaans en Nederlands se jongste uitgawe van hul publikasie, Penseel, het vanjaar met die meeste gehoorlede in twee jaar, gespog.

Die Vereniging vir Afrikaansstudente (VER[r]as) het op 26 Augustus hul jongste digbundel, Penseel-2025, bekend gestel. FOTO: Krotoa Felix
Volgens Zandri van Greunen, voorsitter van VER[r]as, was daar tussen 170 tot 180 mense wat die bundelbekendstelling bygewoon het.
“Hierdie jaar het daar 152 [mense] [ge-]RSVP. Daar was 150 stoele uitgepak en ons moes nog uitpak,” het sy gesê.
Sy sê dat die groei van die bywoning elke jaar toeneem, en meen dat hierdie ’n gesonde spasie is vir jong skrywers om hul skryfvaardighede uit te oefen.
“Daar is nogsteeds jong skrywers en digters wat kreatief te werk gaan met Afrikaans en wat belangstel in die taal en in digkuns.”

Penseel-2025 se bundelbekenstelling spog vanjaar met die meeste gaste die afgelope twee jaar. FOTO: Krotoa Felix
Vir dr. Alfred Schaffer, dosent aan die US se Departement Afrikaans en Nederlands, asook een van die bundel se keurders was, is Penseel ’n goeie geleentheid vir jong digters om blootstelling te kry.
“So aand soos hierdie gaan oor kwesbaarheid, [want] jy stel jou eie kreatiwiteit bloot aan ander mense. Dis ook ’n element van ambisie, want jy wil jouself wys, om hopelik ’n gepubliseerde digter te raak,” het hy gesê.
Dr. Schaffer is positief oor die toekoms van Penseel en is van mening dat dit net verder kan groei.
Dié bundel bied ’n spasie vir alle variёteite van Afrikaans, het hy gesê.

Danelle Jacobs, ’n BA Taal en Kultuur derdejaarstudent aan die Universiteit Stellenbosch (US), is vir die tweede jaar deel van die Penseel-bundel. FOTO: Krotoa Felix
Danelle Jacobs, ’n BA Taal en Kultuur derdejaarstudent aan die US, en skrywer vir die bundel het in haar variёteit, Oranjerivier-Afrikaans geskryf en meen dis “wonderlik” om die vryheid te hê waar sy kan skryf soos sy praat.
“Dit beteken vir my rerig baie dat die Afrikaans [en Nederlands] departement die ekstra stap neem om te verseker dat my dialek nie afgewater word nie.”
