Lückhoff Hoërskool seëvier in vanjaar se derby teen Cloetesville Hoërskool

Lückhoff Hoërskool (LHS), het koning gekraai oor Cloetesville Hoërskool (CHS) vir die Jayden Adams-derbybeker. In die 29ste bestaansjaar van dié derby, het die twee skole oor twee dae in verskeie sportsoorte teen mekaar meegeding; van skaak en landloop tot rugby en sokker. 

Die beker se naam is hierdie jaar verander na die Jayden Adams-beker, vernoem na die oorlede Bafana Bafana-speler en oud-CHS onder-19-sokkerspeler.

Algehele resultate van verskeie sportsoorte
SportWenner Algehele wenner van die derby
SkaakLückhoff HoërskoolLückhoff Hoërskool
Landlope DamesCloetesville Dames
Landlope SeunsLückhoff Hoërskool
HokkieVriendskaplike Wedstryd
NetbalCloetesville Hoërskool
Rugby Cloetesville Hoërskool
SokkerLückhoff Hoërskool

Elke sportitem het deel gevorm van die puntestelsel. Lückhoff Hoërskool het drie van die vier sokkerwedstryde gewen. INFOGRAFIKA: Gio Anthony

In 2025 het LHS se onder-19-sokkerpan ’n 3-0-nederlaag teen CHS ervaar. Vanjaar, op 22 Augustus, op die Van der Stel-sportgronde, het LHS die trofee teruggewen met ’n 1-0-oorwinning teen CHS.

Die onder-19-wedstryd is altyd die hoogtepunt van die derby, volgens Riyaad Ras, CHS se onder-19-sokkerspanbestuurder. Donnerique Arendse, LHS se onder-19-sokkerafrigter, het gesê dat sy spelers se spel vanjaar verbeter het. Arendse vertel dat hulle hierdie jaar gefokus om beter as ’n span saam te speel.

“Dit beteken baie vir [LHS se spelers]. Hulle het hulle alles gegee.”

Die wenwil het ook vir Charlene Holding, LHS se skoolhoof, uitgestaan: “Die kinders was baie meer honger [om die derby te wen].”

'n Foto van Lückhoff Hoërskool se onder-19-sikkerspan wat die Beker lug

Lückhoff Hoërskool (LHS) het vir Cloetesville Hoërskool 1-0 geklop.  Dit was die resultaat van die hoofwedstryd wat gehelp het om die Jayden Adams-derby-beker te wen. FOTO: Gio Anthony

Ras het gesê dat die derby baie beteken vir die Cloetesville en Idasvallei inwoners, aangesien dit hulle in staat stel om hul liefde vir sport – veral sokker, eerder as rugby – uit te leef. Na sy mening is dit iets wat hulle baie van ander gemeenskappe onderskei. Hy het bygevoeg, dat sokker die gemeenskap bymekaar bring.

Resultate

Lückhoff Hoërskool (LHS) was dominant op die sokkerveld; hulle het vier uit vyf wedstryde teenoor Lückhoff Hoërskool (LHS) gewen. INFOGRAFIKA: Gio Anthony

Holding het saamgestem: “Die gemeenskap word herenig deur sport.”

Ouers, leerders en toeskouers het in afwagting gewag om die onder-19-sokkerwedstryd te kyk. VIDEO: Gio Anthony

Volgens Brandon Du Plessis, skoolhoof van CHS, het die derby baie positiewe terugvoering gekry. “Die ouers is baie happy, net [met] die feit dat hulle kinders betrokke is. Dat ons kinders baie lekker kan saam speel, en daar is niks ernstige gevalle nie.”

Wat die toekoms van die derby betref, hoop Holding dat LHS volgende jaar sal “uithaal en wys” vir die 30ste jaar van dié derby.