Pandemie blus US-studenteverenigings se ywer

Studenteverenigings aan die Universiteit Stellenbosch (US) se hoofkampus het tydens vanjaar se eerste kwartaal gesukkel om geleenthede vir hul lede te hou weens dié instelling se streng Covid-19-maatreëls. Dít is volgens Tebogo Mafori, registrateur van die US se Studenteverenigingsraad.

Dit kom nadat studenteverenigings vanjaar óók ’n skerp afname in nuwe lede gesien het.

Die streng maatreëls ontmoedig baie verenigings om op kampus te bemark en geleenthede te hou, het Mafori gesê. 

“Voordat enige verenigingsaktiwiteite kan geskied, moet verenigings ’n motiveringsbrief vir die geleentheid aan die Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV) skryf,” het Mafori gesê. “Ná goedkeuring moet hulle ook ander aansoekvorms invul.”

studenteverenigings

GRAFIKA: Carla Visagie

Die maatreëls wat die US in plek gestel het om fisieke kontak op kampus te beperk, kelder baie van die geleenthede wat verskeie verenigings, soos die Maties Bal- en Latyns-Amerikaanse Dansvereniging (MBLDS), in ’n normale jaar sou aanbied. Só meen Rebecca Jansen van Rensburg, voorsitter van dié vereniging.

studenteverenigings

Die Maties Bal- en Latyns-Amerikaanse Dansvereniging bied vanjaar hoofsaaklik solo-dansklasse aan. FOTO: Carla Visagie

“Ons sokkies is normaalweg baie gewild, en ons is nie seker of ons dit vanjaar gaan kan aanbied nie. Ons groot jaarlikse [Intervarsity]-kompetisie, wat normaalweg in Augustus plaasvind, is ook gekanselleer,” het Jansen van Rensburg gesê. 

Die MBLDS se oefensessies moes ook aangepas word om fisiese kontak te verminder.

“Vir nou het ons besluit almal moet alleen dans, behalwe dié wat ’n vasgestelde dansmaat vir die jaar het,” het Jansen van Rensburg gesê. 

Hoewel die dansklasse anders as is as voor die pandemie, is dit lekker om weer te kan vastrap. Dít is volgens Willene Potgieter, ’n MBLDS-lid met ’n vasgestelde dansmaat vir die jaar.

“Daar is baie ekstra reëls en regulasies waaraan ons nie gewoond is nie. Gelukkig is dit nie so moeilik om te dans met ’n masker op nie,” het Potgieter gesê.

studenteverenigings

Lede van die Maties Bal- en Latyns-Amerikaanse Dansvereniging se beginnersklas pas sosiale-afstandsmaatreëls toe. FOTO: Carla Visagie

Studenteverenigings mag verder geen US-lesinglokale, behalwe dié in die Neelsie, gebruik vir geleenthede nie. Die Neelsie het egter ook beperkings vir kleiner lokale, wat slegs 50% van hul volle kapasiteite mag huisves, het Mafori gesê.

“Verenigings wat dit kan bekostig, hou meestal nie hul geleenthede op kampus nie. Verenigings se enigste ander opsie is om geleenthede op die Rooiplein te hou, maar daarvoor moet hulle ook die goedkeuring van die IKBV ontvang,” het Mafori gesê.

Die US se Wynkultuur-vereniging het “lank gesukkel” om ’n lokaal te kry vir hul geleenthede “wat nie ’n arm en ’n been gaan kos nie”, het Corleze de Bod, voorsitter van dié vereniging, gesê.  

, , ,