Die jaar is traag vir US se studenteverenigings

Studenteverenigings aan die Universiteit Stellenbosch (US) sukkel om nuwe lede te werf ondanks die terugkeer van baie studente na die universiteit se hoofkampus. Dit is volgens Tebogo Mafori, registrateur van die US se Studenteverenigingsraad.

“Verlede jaar het studenteverenigings altesaam ongeveer ’n miljoen lede gehad, met die meeste verenigings wat meer as 500 aansluitings kry. Dit is in vergelyking met getalle vanjaar waar die meeste studenteverenigings skaars 100 aansluitings kry,” het Mafori gesê.

Die Berg- en Toerklub (BTK), een van die grootste studenteverenigings op kampus, het vanjaar ’n skerp afname in aansluitings by hul vereniging gesien, het Elwin Stemmet, ondervoorsitter van die BTK, gesê.  

“Laas jaar op 17 Maart het ons 555 lede gehad, maar op die oomblik het 273 mense aangesluit,” het Stemmet gesê.

studenteverenigings

Die Berg- en Toerklub besig om die aansluitings van die eerstejaarsverenigingsuitstalling te finaliseer. FOTO: Carla Visagie

’n Verenigingsuitstalling… maar anders as gewoonlik

Hoewel daar vanjaar, op 5 Maart, steeds ’n eerstejaarsverenigingsuitstalling was, moes eerstejaars aanlyn by verenigings aansluit en kon hulle slegs deur die uitstalling stap. Verder was daar ook nie vanjaar ’n algemene verenigingsuitstalling nie. Die Studenteverenigingsraad het wel op 16 Maart ’n YouTube-kanaal geskep waarop die verskillende verenigings hulself bemark.

Karl Scheller, voorsitter van die Maties Bierwaarderingsvereniging, het egter gesê dat die gevaar bestaan dat min studente na die aanlyn video’s sal kyk.

“Dit is onwaarskynlik dat [studente] al die verenigings gaan onthou. Ek dink ek praat vir alle studenteverenigings wanneer ek sê dat hierdie soort interaksie nie ideaal is nie,” het Scheller gesê.

studenteverenigings

GRAFIKA: Carla Visagie

Die Maties Bal- en Latyns-Amerikaanse Dansvereniging (MBLAD) het vanjaar besluit om eers ’n paar gratis dansklasse aan te bied om studente te motiveer om by die vereniging aan te sluit. Dit is volgens Rebecca Jansen van Rensburg, voorsitter van die MBLAD. Jansen van Rensburg het egter verder gesȇ dat daar buiten uitdagings rondom aansluitings ook heelwat veiligheidsmaatreëls is wat die MBLAD moet oorweeg om toegelaat te kan word om die klasse aan te bied. Dit sluit in ’n besprekingstelsel vir klasse – meestal vir solo-danse – en om vasgestelde dansmaats vir die jaar te hȇ.

studenteverenigings

Lede van die Maties Bal- en Latyns-Amerikaanse Dansvereniging besig om reëlings vir die dansklasse te bespreek.  FOTO: Carla Visagie

, , , , ,