Nuwe teaterstuk ’n spieël vir millenniërs

Millenniërs kan hulself aanskou in die nuwe toneelstuk, Medium-Rare: Lirieke vir Jamie en Danny, wat tans by die Toyota US Woordfees 2020 opgevoer word. Dié produksie het op 8 Maart in die Adam Small Ouditorium, op Stellenbosch, onder die leiding van Hennie Van Greunen as regisseur geopen.  

“Die teks is deur ’n nuweling in die bedryf, Erica Harris — wat self ’n millenniër is — geskryf. Elk van die akteurs wat ’n oudisie afgelê het, het verlief geraak op die teks omdat hulle hul eie lewens in die teks kon erken,” het Van Greunen gesê. 

(Millenniërs) Medium Rare 1

Lea Vivier (Jamie) en Liezl de Kock (Danny) tydens die eerste opvoering van Medium Rare: Lirieke vir Jamie en Danny. FOTO: Jenna Lemmer

“Jy was al self die karakter óf jy ken iemand wat nes een van die karakters is,” het die aktrise Lea Vivier, wat die rol van Jamie vertolk, gesê.

Die toneelstuk speel af in “real time”, waartydens Vivier se karakter in ’n vreemde bed langs die vreemde gesig van Danny (vertolk deur Liezl de Kock) wakker word. “Dis universeel. Twee mense, van ’n sekere generasie, wat ’n konneksie probeer maak,” het Van Greunen gesê.

Processed with RNI Films. Preset 'Agfacolor 40's'

Lea Vivier en Hennie van Greunen doen tegniese voorbereiding vir die toneelstuk se openingsaand. FOTO: Jenna Lemmer

“Die dialoog is pittig. Dis verwysend. Dit handel oor moderne popkultuur,” het Van Greunen verder gesê. Daar is talle verwysings na musiek, boeke, gesindhede en kwessies wat veral vir die teikengehoor van 18 tot 35-jariges bekend sal wees. In die teks word daar onder meer verwys na Woody Harrelson, Hannah Montana, Gwyneth Paltrow se handelsmerk — Goop asook die uitgediende sosiale media platform — Mxit. 

Processed with RNI Films. Preset 'Agfacolor 40's'

Die toneelstuk is voor ‘n vol gehoor vir die eerste keer opgevoer op 8 Maart. Kaartjies vir die oorblywende opvoerings van die toneelstuk is al klaar uitverkoop. FOTO: Jenna Lemmer

Lede van die gehoor was veral ingenome met Vivier se vertolking van Jamie. “Sy het vir my ’n baie interessante acting styl — op TV en in teater. Sy gee verskriklik baie energie op die verhoog… op ’n goeie manier,” het Magdaleen van Zyl, ’n drama-onderwyser van KwaZulu-Natal en gehoorlid, na afloop van die opvoering gesê.

Die produksiespan beoog om die toneelstuk by die Aardklop Nasionale Kunstefees op te voer, asook in teaters in Kaapstad en Johannesburg.  

, , , ,