‘Nuwe’ HB Thom oop vir US Woordfees

Sowat ’n jaar en ’n half nadat bouwerk aan die HB Thom Teater afgeskop het, is dit uiteindelik gereed om die eerste gehore tydens vanjaar se US Woordfees te verwelkom.

Hoewel die departementele opening eers in die tweede semester sal plaasvind, kan kykers ’n voorsmakie kry van die opgeknapte teater, met sowat 20 produksies wat oor twee weke daar op die planke sal wees.

Volgens Professor Petrus du Preez, dekaan van die Drama-departement, is die besige akademiese program die rede vir die uitstel van die opening.

“Ons wil seker maak dat ons ’n produksie op die planke bring wat nie net die vaardighede van ons studente ten toon stel nie, maar ook die gebou en toerusting kan laat skitter.”

Volgens Fernell de Villiers, verhoogbestuurder by die HB Thom, bied die teater “gespesialiseerde toerusting” wat dit enig in sy soort maak. Die nuwe teater huisves 46 elektroniese verhooginstallasies en ’n draaiverhoog. Hy meen dat die gevorderde toerusting die vooruitsig skep van méér en groter produksies.

Die enkelteater is vervang met twee speelruimtes, genaamd die HB Thom-ouditorium en die HB Thom-laboratorium, oftewel die “Black Box”. Die laboratorium is ’n kleiner teaterruimte wat sitplek bied vir sowat 150 gehoorlede. Die opening van dié laboratorium sal gepaardgaan met ’n studentefees waar studente nuwe werk skep.

Die HB Thom-laboratorium, ook genoem die “Black Box”, is een van die nuwe teaters wat by die departement opgerig is. FOTO: Ilge-Mari Schutte

Die HB Thom-laboratorium, ook genoem die “Black Box”, is een van die nuwe teaters wat by die departement opgerig is. FOTO: Ilge-Mari Schutte

Verder skep dit ook die geleentheid vir teater-in-die-rondte-produksies. Dit behels dat akteurs nie noodwendig óp ’n verhoog speel nie, maar tussen of rondom die gehoor.

Volgens die webtuiste van die Universiteit Stellenbosch (US) se fasiliteitsbestuur, is opgraderingswerk ook aan die voorportaal en kaartjiekantoor gedoen. Daar is nuwe ouditoriumsitplekke, ’n verhoog met ’n horisontale diepte wat aan internasionale standaarde voldoen, ’n orkesput, nuwe klank- en beligtingsfasiliteite en opgeknapte aantrekkamers.

Die hoof-ouditorium se sitplekke is vervang. FOTO: Ilge-Mari Schutte.

Die hoof-ouditorium se sitplekke is vervang. FOTO: Ilge-Mari Schutte.

Fasiliteitsbestuur meen opgraderingswerk was noodsaaklik om nie net te voldoen aan gesondheid-en veiligheidsregulasies nie, maar ook om te verseker dat die teater funksioneer as ’n kommersiële entiteit.

Volgens Charin Skeen, senior projekbestuurder  aan die US, is die finale koste van die projek nog nie bepaal nie, maar die voorgestelde bedrag vir die opgradering van die dramadepartement en die HB Thom teater beloop R96 031 076,89.

Du Preez is van mening dat die teater die skakelpunt tussen die Stellenbosch-gemeenskap en die US is.

“Ons poog om dit ’n inklusiewe en toeganklike ruimte te maak sodat die vrugte van die ruimtes nie net deur die US geniet kan word nie, maar ’n groter gemeenskap kan baat.”

Hy sê verder dat dit ook ’n “plek is waar idees en kreatiwiteit vlerke kry”.

Maties wat tans drama studeer, is die eerste generasie studente wat die geleentheid sal hê om op dié verhoog op te tree.

Danté Sims (20), ’n tweedejaarstudent aan die US Drama-departement, sê sy en haar mede-studente is opgewonde oor die vooruitsig van ’n nuwe speelruimte.

“Dit laat mens spesiaal voel om te weet dat die teater spesifiek vir jou en jou mede-spelers gebou is.”

Produksies wat vanjaar tydens die Woordfees in die HB Thom te sien sal wees, sluit in onder meer Asem, Half Leeg, Dis ’n Land en Demon Bride.

Die eerste produksie, 100% Stellenbosch, wat Sondag op die nuwe HB Thom gespeel het. FOTO: Ilge-Mari Schutte.

Die eerste produksie, 100% Stellenbosch, wat Sondag op die nuwe HB Thom gespeel het. FOTO: Ilge-Mari Schutte.

,