Nuwe besighede dui op vertroue in Stellenbosch se middedorp

Die opening van talle nuwe besighede in Stellenbosch se middedorp oor die afgelope jaar, dui daarop dat plaaslike inwoners en entrepreneurs steeds ekonomiese vertroue in die dorp het.

Dit is volgens Jeanneret Momberg, uitvoerende hoof van Visit Stellenbosch – die dorp se toeriste- en inligtingsentrum wat tans 237 besighede vanuit die plaaslike toerismebedryf verteenwoordig.

nuwe besighede

Ryneveldstraat een van die strate in Stellenbosch se middedorp wat sedert Maart 2020 ’n gedaantewisseling ondergaan het as een van die brandpunte waar talle nuwe besighede hul deure geopen het. FOTO: Anri Matthee

Die impak wat die inperking op die plaaslike ekonomie gehad het, is veral sigbaar in die sektore wat swaar op studente steun, het Anthony Barnes, direkteur van beplanning en ekonomiese ontwikkeling by Stellenbosch Munisipaliteit, in ʼn e-posverklaring aan MatieMedia gesȇ.

“Hoewel die studente wat na kampus terugkeer hul eie uitdagings met betrekking tot Covid-19 meebring, is [die terugkeer van studente] ‘n enorme inspuiting vir die plaaslike ekonomie,” het Barnes gesê.

Nuwe besighede wat wel oor die afgelope jaar hul deure in die middedorp geopen het, spesifiek in Ryneveld-, Andringa-, Plein- en Dorpstraat, bestaan volgens Momberg hoofsaaklik uit restaurante en koffiewinkels.

In ’n goeie MOOD

Volgens Erik Kleinhans en Johan Cronje, eienaars van die MOOD Coffee Bar wat op 20 Januarie vanjaar in Ryneveldstraat geopen het, was die besigheid wat MOOD in dieselfde ruimte voorafgegaan het, ’n groot trekpleister.

Meraki, wat voorheen uit dié ruimte handel gedryf het, het op 8 Mei 2020 op Instagram aangekondig dat hulle na ‘n stryd met “cut-throat” huurvoorwaardes permanent hul deure sou sluit.

nuwe besighede

Die MOOD Coffee Bar-span in hul winkel op Ryneveldstraat: Johan Cronje (mede-eienaar), Guy Ndombe (barista), Derek Sheren (barista) en Erik Kleinhans (mede-eienaar). FOTO: Anri Matthee

Volgens Kleinhans huur hy en Cronje die perseel reeds vanaf Oktober 2020, maar moes hulle drie maande wag om ’n lewensvatbare opening te verseker. Kleinhans het verduidelik dat studente sowat 70% van MOOD se teikenmark opmaak.

Toerisme in die visier

Momberg is van mening dat hoewel Maart ’n goeie maand vir die dorp se ekonomie was, daar steeds kommer is dat dit nie volgehou kan word sonder voldoende besoekersvloei nie. 

“Die feit bly: Die toerismevoete is nie daar nie,” het Momberg gesȇ.

Momberg het ook gewaarsku dat die ekonomiese “koek” tans klein is. 

“Hoe meer mense daaruit moet eet, hoe dunner gaan die snytjies raak,” het Momberg gesê. 

“Maar daar is tans ’n goeie toevloei van mense na Stellenbosch, wat natuurlik baie te make het met die universiteit se heropening,” het sy bygevoeg. 

Jeanneret Momberg, uitvoerende hoof van Visit Stellenbosch, vertel via WhatsApp oor inisiatiewe wat beoog om die plaaslike toerismebedryf te ondersteun. OPNAME: Verskaf/Jeanneret Momberg 

Barnes is van mening dat Stellenbosse inwoners tot die dorp se ekonomie kan bydra deur plaaslik te koop en die Covid-19-regulasies na te kom.

, , , , , ,