’n Oneindigende soektog na ontvlugting

Die eenmanstuk, Jessie, die man en die maan, is ’n aangrypende en emosionele toneelstuk wat die menslike psige diep binnedring. Die verhaal begin met ’n romantiese verhouding wat in ’n huwelik van misbruik en pyn ontaard.

Die eenmanstuk was op 12, 14 en 15 Oktober by die Toyota US Woordfees te siene.

Volmaan bring emosionele worsteling

Hierdie eenmanvertoning is indrukwekkend, met Carlo Daniels wat die rolle van die vader, seun, oupa en sy lewensmaat met oortuiging en emosionele diepte vertolk. Die akteur beskik oor die kwaliteite om ’n verskeidenheid karakters lewe te gee.

Jessie, AB en Jane – al drie karakters vertolk deur Carlo Daniels – se seun wat op ’n volmaan-aand gebore is, speel ’n sentrale rol in die storie. Ná sy geboorte waarsku AB se pa hom dat omdat hy tydens ’n volmaan gebore is, hy dit moeilik gaan vind om sy voete op aarde te vind. Dit bring ’n boeiende en raaiselagtige element tot die verhaal. 

Verder bring die soeke na die maan, waar Jessie glo sy ma rus, aan die vertoning ’n mistieke en filosofiese dimensie. Die soeke na die maan is ’n voorstelling van hoe die karakters rou en worstel met verlies.

Die eenmanstuk Jessie, Die Man en Die Maan, word uitstekend deur Carlo Daniels vertolk. Hy slaag daarin om vier verskillende karakters effektief aan die gehoor oor te dra. FOTO: Woordfees

Beligting vertolk ook ’n karakter

Die twee lampe wat op die verhoog staan, is ’n simboliese verteenwoordiging van die maan en die twee vaderfigure in die verhaal. Die groter lamp was gebruik as die twee pa’s aan die woord was en die klein lamp word gebruik om te wys hoe die maan deurgaans in die toneelstuk nagejaag word.

Daniels en Kanya Viljoen het ook uitstekende werk met die choreografie gedoen om die emosies en innerlike stryd van die karakters op ’n visuele boeiende manier oor te dra. 

Elke karakter het tot ’n mate tot die tema van geestesgesondheid bygedra. ʼn Mens kan nie help om te wonder of Viljoen (produksiebestuur, teks, stel- en beligtingsontwerper) bedoel het om deur hierdie vertoning ’n voorstelling te gee van die implikasies wat opduik as mense nie hulle trauma verwerk nie. 

Die eenmanstuk was definitief geskryf om die gehoor te laat nadink oor die lewe en struikelblokke wat met dit kom. Dit is ’n aangrypende en filosofiese vertoning wat die menslike ervaring verken. Dit is beslis ’n storie wat jy vir ’n tyd saam met jou sal dra. 

, ,