Anita Lloyd het in 2023 bekendheid verwerf onder Afrikaanse televisiekykers toe sy in die kykNET-werklikheidsreeks, Die Real Housewives van die Wynlande, verskyn het. Anita, wat tans 18 000 volgelinge op Instragram het, het pas ’n podsendingreeks, Agnee Rêgtig!, op Netwerk24 geloods waarin sy na hartelus kan klets en swets. Sy het met Rentia Weber gesels.
Anita Lloyd het bekendheid verwerf toe sy in 2023 in die realiteitsprogram Die Real Housewives van die Wynlande verskyn het. Sy is tans besig om te verfilm aan podsending-episodes vir haar eie reeks, Agnee Rêgtig!, wat deur Media24 vervaardig word. FOTO: Rentia Weber: Rentia Weber
Anita Lloyd bestel ʼn cappuccino. “Met twee suikers, asseblief, en dankie, hoor.” Soet cappuccino of nie, Anita het ʼn aansienlike hoeveelheid gewig verloor sedert sy in 2023 deelgeneem het aan die werklikheidsreeks oor welgestelde huisvroue in die Boland: Die Real Housewives van die Wynlande.
Anita het ná Housewives begin met medikasie om haar aptyt te onderdruk.
“Hoor hier, ek belowe vir jou: Ek is verstom,” sê Anita oor die resultate. Sy het egter ses maande gelede opgehou met die medikasie. “En van daar af… ek moet mos nou mooi logies dink: Het ek hierdie alles verniet gedoen? Nou eet ek wanneer ek honger is. Wanneer dit mý pas.”
Anita wys na haar liggaam en verduidelik dat sy nie soos “die gewone vrou” gebou is nie. “My arms en skouers en boobs is groter as my onderlyf. Ek is ʼn onderstebo driehoek. Ek is nie ʼn peer nie,” sê sy.
Gewoonlik gaan sy dokter toe en sê self wat op haar voorskrif moet staan, vertel Anita. Maar na aanleiding van die gewigsverlies het haar dokter aangedring om ’n paar gesondheidstoetse te laat doen. “En ek dink: Net solank ek my slaappil kry, dan is ek okay,” sê Anita.
En toe kom die uitslae. “I kid you not. Ek het hoë bloeddruk gehad; dit is weg. Ek het suiker gehad; dis weg. Vriendin, ek het cholesterol gehad. My telling was ágt. Dis nou dríe,” sê Anita met ywer.
Kry sy katterige aanmerkings oor haar voorkoms op sosiale media? Dan skryf sy terug: “Jy hóéf nie hierdie inspuitings te kry nie. Jy kan net minder eet. Want dis wat ek nou doen.”
Anita Lloyd is tans besig om te verfilm aan podsending-episodes vir haar eie reeks, Agnee Rêgtig!, wat deur Media24 vervaardig word. FOTO: Rentia Weber
ʼn Nuwe reeks
Anita is tans besig met die verfilming van Agnee Rêgtig!, ’n nuwe reeks podsendings wat Media24 vervaardig vir intekenaars om na te kyk en/of luister. Die eerste episode is op 7 April vrygestel, met nuwe episodes wat sedertdien weekliks vrygestel word, sê sy.
Anita Lloyd en Candice Bester (links) as gaste op Leandie du Randt (heel regs) se program #GESELS. FOTO: Verskaf/Media24
“So ons gaan regdeur die jaar verfilm, 55 episodes. En ek wil nou nie voorbarig klink nie, maar die opnames is vir my ʼn walk in the park. Ek gee één kyk na die gespreksegmente en dan onthou ek alles wat ek wil vertel. So, it’s pumping, vriendin, it’s pumping,” sê sy.
Maar Anita gee ook toe dat ’n aanbieder “opge-psyche” moet wees: “Jy moet reg wees. Dit kan nie ʼn dommie wees nie. Jy moet weet wat jy wil sê, want onthou, die kamera is óp jou. Hierdie is nou hardcore. Ek moet nou deel oor my lewe.”
Anita sê dit is moeilik om te bepaal presies hoeveel mense na die podsending gaan luister. Sy glo egter dat haar eie voorbereiding tot kyker-/luistergetalle sal bydra.
“Ek grimeer myself mooi, ek trek vir my mooi aan en dra al my juwele en ek vat nie daai kans nie. Want daar gaan mense wees wat gaan sê ‘Ons het nie besef dat ons vir Anita ook gaan kan sién nie, dat ons vir haar sal kan kýk nie,’ ” sê sy.
Vóór Housewives
Anita Vorster is op 12 Julie 1967 in Durban gebore. Sy het by pleegouers grootgeword.
“Albei my ouers is oorlede toe ek onderskeidelik agt en nege jaar oud was.” Anita was van graad een tot 12 in Dirkie Uys-Skool in Durban en hoofdogter in matriek.
Daarna het sy aan die destydse Universiteit van die Oranje-Vrystaat studeer. “Ek het ʼn graad in opvoedkunde, nie ’n hoër-onderwysdiploman nie. [Ek het ʼn] honneursgraad en meestersgraad in linguistiek,” vertel Anita. En toe is sy in 1989 as Joolprinses gekroon: “Die cherry op die koek.”
Anita Vorster in 1989 as joolprinses by die Universiteit van Oranje-Vrystaat. FOTO: Verskaf/Anita Lloyd
Anita Vorster in 1989 as linguistiekstudent aan die Universiteit Oranje-Vrystaat. FOTO: Verskaf/Anita Lloyd
Anita se oë blink wanneer sy oor haar man gesels. “Boyce is my geliefde. Hy is deel van my en ek van hom. Ons is in 1991getroud maar ken mekaar al van skool af,” vertel sy.
‘Die Oppenheimers van Suid-Afrika’
Boyce was op ʼn jong ouderdom direkteur vir SABMiller, en hulle het dus as paartjie oor die wêreld heen gereis vir sy beroep, sê Anita. “Dit het beteken dat ons baie vinnig, baie hoog gevlieg het. Ons was soos die Oppenheimers van Suid-Afrika.”
Anita en Boyce Lloyd is sedert 1991 getroud. FOTO: Verskaf/Anita Lloyd
En toe kom Die Housewives oor Anita se pad. “Ek weet nou nog nie hoe [kykNET] by my uitgekom het nie, maar dit was life-changing,” vertel sy. Is dit vir enige persoon? “Beslis nie. Nie enigiemand besit hierdie charisma nie. As jy suksesvol is soos ek, moet jy weet jy is een van min mense met só ʼn talent,” sê sy.
En ja, sy geniet werklik die aanhangers.
“Mense is gaaf en selfs star-struck as hulle my sien,” sê Anita.
Kritiek met ’n angel
Op die kommentaarblad van Agnee Rêgtig! se persverklaring op Netwerk24, skryf ‘Ai toggie tog’: “Wie is die twee [Anita en Candice] dat iemand in hul of hul opinies belang sou stel?” (met sewe ‘respek’ handdrukkies van ander kommentators wat saamstem).
‘Se wie?’ [sic] skryf egter: “Uitmuntend! Sien klaar uit na volgende episode.”
“Nie almal kan van my hou nie. Ek hou ook nie van almal nie,” sê Anita. “Ek gee nie om oor kritiek nie. Different strokes for different oukes. Ek steur my min aan negatiwiteit. En hierdie snert dat jy nie kan vertel dat dit finansieel goed met jou gaan nie, is ook sommer nonsens. Ons is oor dit.”
Chantelle Knoetze ken al vir Anita vir 32 jaar. “Dit is haar sin vir humor wat jou boei.” Anél Venter, nog ’n boesemvriendin, sê: “Sy is daai vriendin wat ek saamvat oorlog toe, ek in my sneakers en sy in haar Gucci.”
Candice Bester, mede-aanbieder van Agnee Rêgtig!, sê Anita het soveel selfvertroue dat sy regtig nie omgee oor wat enigiemand van haar dink nie. “Ons kort meer mense soos Anita in die wêreld,” sê Candice.
Matrikulant, Romein en Skandinawiër
Anita en haar man Boyce het vroeër vanjaar DNA-toetse laat doen om hul herkoms vas te stel. Hulle moes vir tussen ses en agt weke wag vir die uitslae:
“Hier kom [die uitslae]. Ek bewe soos ʼn matrikulant vir haar matriekuitslae. Ek ruk só,” vertel Anita, en beduie met haar hande hoe sy gebewe het. “Ek sit dié kant, Boyce sit dáái kant. Hy maak syne oop, ek maak myne oop.”
“You will not believe it: Ek is 84% Skandinawies, en Wes-Europa, menende Frankryk, Duitsland, Nederland, dáár. Okay? Die res, 16%, is ek…Sar-di-ni-an.”
Groot was hulle verbasing toe Boyce se uitslae aandui dat hy ’n soortgelyke herkoms het: “Hy is 95% Skandinawies, en dan 5%, óók van Sardinië af. Nou wat is die kanse! They came, they conquered, and they mixed with one another. So hier sit ʼn Romein voor jou. Buiten dat ek Skandinawies is. Vriendin, dit is next-level.”
Anita Lloyd woon op die Pearl Valley-landgoed net buite die Paarl. FOTO: Rentia Weber