’n Ma vir die gemeenskap

Leana Sutherland se pa was grotendeels afwesig tydens haar grootwordjare. Sy het besluit om maatskaplike werk te studeer, om ander kinders uit gebroke huishoudings te help. Leana, tans die maatskaplike werker by Laerskool Mikro in Kuilsrivier, het met Liza-May Pieters gesels oor die wyse waarop haar kinderjare haar loopbaan gevorm het.

“My lewe was soos ʼn gebroke legkaart. Ek het maatskaplike werk gaan studeer om die legkaart weer bymekaar te probeer sit,” sê Leana Sutherland, tans ʼn maatskaplike werker by Laerskool Mikro in Kuilsrivier. 

Voorheen het sy by Jan Krielskool, ook in Kuilsrivier gewerk. Sy is egter reeds die afgelope sewe jaar by Laerskool Mikro, waar sy kinders en gesinne ondersteun wat deur moeilike tye gaan.

Sy is dankbaar dat sy nou reeds vir sewe jaar by dieselfde skool kan werk, aangesien sy die mense en die gemeenskap regtig kon leer ken.

“Om ʼn verhouding met die kinders en met hulle families te bou, is baie belangrik,” sê Leana. 

Wanneer kinders by haar kantoor inloop, vra sy eers hoe hulle voel, sê sy. As hulle hartseer voel, dan sê sy vir hulle dat hulle nie by haar kantoordeur mag uitloop voordat hulle nie beter voel nie.

“Leana het ʼn baie belangrike rol in die kinders se lewens verrig, en daarom sal ek voorstel dat alle skole ʼn  maatskaplike werker soos Leana moet aanstel”, sê Nico Walters, oud-skoolhoof van Laerskool Mikro in ’n handgeskrewe brief aan SMF News. FOTO: Liza-May Pieters

Moederlike klankbord vir kinders

Leana is in die Paarl gebore, en het grootgeword in ’n huishouding waar haar ma die enkelouer was. Haar pa was grootliks afwesig in haar grootwordjare.  “My ma het ons alleen grootgemaak,” sê Leana.

Sy was in Hoër Meisieskool Paarl, en het na skool maatskaplike werk gaan studeer.

Sy het haar werk juis gekies om ander kinders te help wat uit gebroke huise kom. 

“Die een kind by die skool het gedink dat ek die tannie is wat die kos maak, terwyl n ander een na my verwys het as die tannie wat jou help as jy in die moeilikheid is,” sê Leana.

Tydens haar studies, het sy dit in ’n stadium oorweeg om op te skop. Om mense se swaarkry elke dag te sien, het begin om net te veel te raak, sê sy. 

Vandag is sy bly dat sy vasgebyt het. 

“Dit voel nie altyd of ek ’n groot verskil in die kinders se lewens maak nie, maar so nou en dan onthou ’n kind my as hulle my in die winkel raakloop,” sê Leana. “Gewoonlik vat dit my so paar minute, maar dan sien ek weer die kind se hele storie so voor my afspeel.” 

“Die aanstelling van Leana as maatskaplike werker, was een van die beste besluite wat ek in my 25-jaar as skoolhoof by Laerskool Mikro geneem het,” sê oud-skoolhoof, Nico Walters. Hy verduidelik dat die kinders by haar aanklank vind, want sy is moederlik. 

“Haar deurleefde gesinswaardes met haar uitstekende kennis van die beroep, is ’n wins vir die skool en stukkende samelewing waarvan ons deel is,” sê dominee Jannie du Plessis, leraar by die Kuilsrivier-Suid NG-gemeente, waar Leana en haar gesin ook betrokke is. 

“’n Kind het haar onlangs as n ‘mamma’ beskryf,” sê hy, as voorbeeld van die impak wat sy het op die kinders met wie sy werk.

Laerskool Mikro was een van die eerste skole in die Kaapse noordelike voorstede om ’n voltydse maatskaplike werker aan te stel, omdat dit gedeeltelik deur bevondsing van die Nederduits Gereformeerde Kerk moontlik gemaak is, sê Nico Walters, oud skoolhoof by Laerskool Mikro.  FOTO:Liza-May Pieters

Gesinslewe bly haar prioriteit

Die mure in Leana se sitkamer is vol gesinsfoto’s. Haar man, Graeme, en hulle dogters, Jenna en Megan, is haar lewe. 

Sy en Greame is destyds in Plettenbergbaai getroud. 

“Dit was ’n strategiese besluit, want dit was vêr,” grap sy. “So ons hoef niemand te nooi wie ons nie regtig wou nie.” 

Leana raak toe later swanger met hul eerste dogter, Megan. 

“Tydens die 28-week sonar het die dokter agter gekom daar is iets fout,” sê sy. “Die lys van moontlikhede waarvoor hulle wou toets, was so lank soos my arm.” 

Hulle het in daardie stadium geen idee gehad wat die probleem kon wees nie, sê Leana. Die dokter het vir hulle twee keuses gegee: beëindig die swangerskap óf voort gaan en kyk wat gebeur. 

“Toe ek dit hoor, het ek gevoel ek raak koud. Bleek,” onthou sy.

Met Megan se geboorte, kon hulle nie gehoortoetse op haar doen nie, want sy het nie stil gelê nie, onthou Leana. Hulle het eers later uitgevind dat Megan heeltemal doof is. Danksy ’n kogleêre inplanting op vyf, kan Megan vandag hoor. 

Sy verduidelik dat haar kinders haar trots maak. “Ek bewonder hulle omgee vir ander.”

Om ’n verskil te maak

Leana put veral genot uit haar werk wanneer sy sien dat sy ’n verskil vir ander kon maak, of as sy sien hoe kinders wat gehelp het, vandag floreer. 

“Dit sal alles die moeite werd wees as ek net ’n verskil in één kind se lewe kan maak,” sê sy. “Dit is vir regtig my so spesiaal as die kinders wie ek gehelp het, my kan onthou.” 

Leana werk al vir die afgelope sewe jaar as maatskaplike werker by Laerskool Mikro. Foto: Liza-May Pieters

,